God se Woord in vandag se woorde

God maak nie gemors nie


Is jy vandag ’n bietjie af? Verstaan jy nog steeds nie eintlik wat jy hier maak nie? Voel dit vir jou of jy alleen is? Dink jy dat jy nader is aan ’n mislukking as aan sukses? Bly ’n klomp vrae net onbeantwoord? Hier is dalk ’n antwoord waaraan jy kan vashou: 12God het julle gekies. Julle is sy spesiale mense in die wêreld. Hy is baie lief vir julle.

Hoor jy mooi wat hier van jou geskryf word? Jy is ’n baie spesiale mens. Al voel dit nie so nie. Al voel jy soms soos ’n mislukking. Al voel dit vir jou dat dit beter is om jouself uit die samelewing te vat, want jy beteken tog vir niemand iets nie. Eintlik is die probleme méér as die goeie en lekker dinge.

Ja, jy is eintlik spesiaal.

Jy is vir God een van Sy spesiale kinders. Hy het jou gekies nog voordat jy gebore is. Hy weet jy is spesiaal, want Hy het jou immers gemaak. Jy is die gevolg van Sy skepping en net soos ons baie hou van dinge wat ons maak, so kan God nie ophou om na jou te kyk en te hou van wat uit Sy hande gevloei het nie.

Ek wou my vyftigste verjaarsdag saam met soveel as moontlik mense vier, daarom moes ons kreatief dink. Ek besluit toe om vir tien dae lank elke aand ’n groepie vriende oor te nooi en hamburgers te braai. Ons het ’n bak rou maalvleis met ’n verskeidenheid van kruie, speserye en kaas neergesit en elke gas kon sy eie patty bou soos hy wou.

Die mense was mal daaroor. Elkeen het gedink sy burger is die beste en wou hê die ander moes daarvan proe. En is ons almal nie maar so nie? As ons self iets gemaak of aanmekaar gesit het, dink ons mos dis die heel beste in die wêreld. Niemand kan dit so goed doen soos ek nie. Waar ek aanvanklik getwyfel het oor ons kreatiewe idee, het hierdie persoonlike betrokkenheid by die maak van jou eie kos groot waarde toegevoeg.

Ek vermoed ons kry hierdie eienskap van God, want God voel presies dieselfde oor dit wat Hy maak. Elke mens met sy unieke eienskappe is God se beste. Jy is God se beste. God is mal oor jou. Jy is God se oogappel, want Hy het jou gemaak en Hy maak nie gemors nie.

Dit is vir ons moeilik om te glo, want ons weet wat ons al aangevang het. Ons koppe hang in skaamte en ons voel sleg. Dan is dit vir ons moeilik om te glo dat God vir ons gekies het en ons steeds liefhet. Tog is daar één ding wat ons die heeltyd moet onthou: Dit is dat niks wat ek en jy doen ons status kan verander nie.

Omdat ek al baie droog gemaak het, trek ek nie ’n streep deur God se status as Skepper nie. Nog minder kan ek ’n streep trek deur Sy liefde wat Hy vir my het. Ja, die verkeerde dinge wat ek gedoen het maak my Skepper se hart seer, maar ek kan nooit ’n streep trek deur die feit dat Hy my gemaak het en baie hou van dit wat Hy gemaak het nie.

Soms, tussen al die geharwar en moeilike tye wanneer die branders aanhoudend oor my kop slaan, is dit die een ding waaraan ek met alle mag vasklou en ek sê dit oor en oor in my kop: God het my gekies. Daarom is ek spesiaal. Ja, ek verstaan nie alles nie en eintlik voel dit vir my of ek in ’n doodloopstraat met geen uitkoms is nie, maar dan roep ek hardop: God is lief vir my!

Ek is met ’n doel hier, al verstaan ek dit nog nie! Hier waar ek my stukkie afgekamp het op die aarde, dit is hier waar God my geplaas het. Hy het dit spesiaal so bewerkstellig dat ek juis nóú hier moet wees. Hier, vandag, het God spesiaal vir my ’n plekkie gemaak waar Hy vir my lief kan wees, waar Hy my spesiaal wil laat voel en waar Hy gekies het dat ek vir Hom moet lewe!

As jy vandag in jou kantoor sit, of in die veld loop, of in jou kar ry, sê hierdie drie goed oor en oor:

God het my gekies!

Ek is ’n spesiale mens in die wêreld!

God het my baie lief!

Teks

Kolossense 3:12-17

Om oor na te dink

Besef jy jou waarde in God se oë?

Wat beteken dit vir jou?

Watter verskil maak dit in jou lewe vandag?

Gebed

Sjoe, Vader, U liefde vir my is wonderbaar! Dit is eintlik te veel vir my om te verstaan. Dankie dat ek my waarde van U kry. Dankie dat U my sien as spesiaal en dat U my ontsettend liefhet. Aan U kom al die eer toe! Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek