God nie die outeur van swaar
Swaar in ’n mens se lewe trek die brieke hard op. Ewe skielik is niks anders meer so belangrik soos die krisis voor die deur nie. Die gejaag na die volgende vergadering word met een oproep gestop. Die gesprek wat nie kon wag nie, nou sommer op die langebaan gestuur. Selfs die baas word net ingelig dat daar ’n krisis in jou lewe is en dat hy eers agter in die ry moet staan.
Dis wat ’n krisis in jou lewe bring. Ewe skielik besef ’n mens wat rêrig belangrik is en wat nie. ’n Mens besef dat die gejaag na wind nie die belangrikste is nie en eintlik maar net dit is: ’n gejaag na niks. Dinge val in perspektief en ’n mens begin die dinge wat rêrig saakmaak in die wasige wêreld raaksien.
’n Mens begin dink oor die rigting waarheen jy op pad is. En dan begin ’n mens om vrae te vra. Is ek op pad in die regte rigting? Doen ek die dinge wat rêrig saakmaak? Is ek besig met die regte goeters in die lewe?
En dan gaan die vrae nog verder na die sin van die lewe. Maak dinge sin? Hoekom gebeur die dinge? En dan begin ons die pakkie van die oorsaak van die skuld baie keer oorskuif na onsself.
God is seker besig om my te straf, want ek het lanklaas gebid. Ek gaan nie meer kerk toe nie en wanneer ons begin dink aan wanneer laas ek vir die kerk ietsie gegee het, dryf die skuldgevoel ’n laaste spyker in: Dis God wat my nou aan die kort hare beet het, omdat ek afgedwaal het en te veel in die wêreld lewe.
Hierdie is so normaal. Soveel keer hoor ek mense sê dat God het nou die of daai voor my deur kom sit, sodat ek swaar kan kry om my weer terug te bring op die brug.
Tog is dit baie vêr verwyderd van die waarheid. God is nie die outeur van ons swaar storie nie. God skep nie die pyn wat so baie van ons êrens in ons lewens raakloop nie. God is nie eers betrokke by die beplanning daarvan nie.
Jakobus sê dit eenvoudig en reguit: 13Een fout moet ons egter nie maak nie. Ek kan nie sê dat God die Een is wat al die slegte dinge oor my bring net om my te toets nie.
God gebruik wel die slegte wat met ons gebeur vir ons beswil.
In die opvoeding van ons kinders wil ons baie keer namens hulle die pyn vat. Of ons wil ’n paar rand ingooi om die krisis namens hulle op te los. Ons dink ons doen goed, maar eintlik ontneem ons ons kinders ’n leergeleentheid en later dink hulle hul kan maar net die ouers bel en hulle sal ’n towerstaffie of beursie laat praat en die krisis is weg. En terselfdertyd is die vormingvoordeel ook net weg.
God sal nooit ’n leergeleentheid laat verbyglip nie. Hy sal die swaar seisoene in ons lewens gebruik om ons nog sterker te maak en ja, om ons terug op die brug te kry, maar dat Hy die een is wat dit veroorsaak het, aikôna!
Teks
Jakobus 1:13
Om oor na te dink
Wat maak jy met jou swaar?
Hoe ervaar jy God in jou swaar?
Glo jy dat God nie die swaar bring nie?
Gebed
Vader, ek hoor dat U nie die skepper van die swaar in my lewe is nie. Ek glo dit, maar dit maak die swaar nie makliker vir my nie. Hou my hand vas en help my deur die uitdagings in my pad. In Jesus se Naam. Amen.