God se Woord in vandag se woorde

God pootjie niemand nie


Wanneer ons mense swaar trek, wil ons altyd eers ander mense of iets anders beskuldig. Dis mos altyd iemand anders se skuld dat ek in die benarde situasie sit.

Wanneer ons nie iemand of iets anders kry om die skuldpakkie vir ons swaar te dra nie, kom God onder skoot. Ons kry onsself jammer en sê ons het seker iets verkeerd gedoen, dis hoekom God ons nou straf.

Die stelling is egter nie teologies korrek nie, want daar is ’n paar dinge wat God nie kan doen nie. Jy sien, God kan nie versoek word deur een of ander bose mag om self kwaad te doen nie. God kan nie om die bos gelei word, sodat Hy verkeerde dinge doen nie.

Dit is nie deel van God se mondering nie. God kan nie dinge doen wat Hy self gesê het nie reg is om te doen nie. God kan net die regte dinge doen en bose of verkeerde dade kan nie hier deel wees nie. Dis werklik onmoontlik vir God om toe te laat dat Hy versoek word om verkeerde dade te doen.

Barnes (e-sword) onderstreep hierdie karaktereienskap van God soos volg:

  • Daar is geen bose hartstog om bevredig te word soos by mense nie.
  • Daar is geen gebrek aan krag, sodat God versoek kan word om iets te doen wat verkeerd is, sodat Hy meer krag kan ontvang nie.
  • Daar is geen gebrek aan rykdom nie, want Hy het oneindige hulpbronne, en al wat daar is of kan wees, is Syne.
  • Daar is geen gebrek aan geluk, dat Hy geluk moet soek in bronne wat nie nou in Sy besit is nie. Niks kan dus aan die goddelike verstand voorgehou word as ‘n aansporing om kwaad te doen nie.

Hierdie stelling dat God nie versoek kan word om verkeerde dinge te doen nie, kan nou verder getrek word: God kan ook nie mense versoek om verkeerde dinge te doen nie.

Hierdie vers moet ons mooi onthou, sodat ons nie dalk in die toekoms deur ons eie denke mislei word en probeer om skuld voor God se deur te gaan aflaai nie: 13Een fout moet ons egter nie maak nie. Ek kan nie sê dat God die Een is wat al die slegte dinge oor my bring net om my te toets nie. Met sulke speletjies hou God Hom nie op nie. Dit is nie asof die een of ander bose mag God aan sulke toetse kan onderwerp of dat God mense daaraan onderwerp nie.

Eintlik moet hierdie wete dat God glad nie oop is vir versoekings nie en dat Hy ons nog minder sal versoek, ’n versterking vir ons geloof wees. Dit moet ons krag gee om in die swaar voort te beur.

God sal nooit ons probeer pootjie nie. Inteendeel, Hy sal ons eerder help om op te staan nadat ons deur die lewe gepootjie is. Onthou dit en hou vas daaraan, want dalk het jy net om die draai ‘n helpende hand nodig, dan sal God daar wees om jou op te help.

Teks
Jakobus 1:12-18

Om oor na te dink
Na wie wys jy vinger?
Hoeveel vingers wys terug?
Hoe ervaar jy God in jou versoekings?

Gebed
Vader, ek besef dat ek met my vinger in die lug staan. Dankie, dat U my nooit wegjaag nie, al beskuldig ek U verkeerdelik. Help my om staande te bly in die versoekings. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek