God se Woord in vandag se woorde

God praat nog vandag


God is nog steeds ’n God wat betrokke is by Sy kinders hier op aarde. God het die heeltyd gespook met Sy volk, Israel. As hulle van koers af was, het Hy hulle stadig, maar seker, weer terug op die brug gekry.

God het self met Sy kinders gepraat, maar het ook baie keer engele gebruik om namens Hom die boodskap aan mense oor te dra: 2Die boodskap wat voorheen deur engele aan die mense verkondig is, was natuurlik nie sommer stories nie. Mense het daarna geluister en wie hulle nie daaraan gesteur het nie, is gestraf soos dit hoort.

Daar is baie voorbeelde van engele in die Ou Testament. God het vir Moses die tien gebooie gegee en ’n engel om hom al die pad te beskerm en op die regte pad te lei. Toe Joshua by Moses oorneem, het die engele ook vir hom gehelp om die beloofde land in te gaan.

Die engel het vir Hagar gehelp om terug te gaan na die vrou vir wie sy gewerk het, sodat God se planne kon uitwerk. Twee engele het vir Lot gewaarsku oor God se plan om Sodom en Gomorra te verwoes. Isak en Jakob is deur engele besoek. So ook die groot profete, Elia en Elisa. En daar is nog vele meer voorbeelde.

Engele was God se spreekbuise in die Ou Testament. Hulle het die wysheid en waarhede van God aan Sy volk gebring. As die mense nie gedoen het soos die engele gesê het nie, was daar groot reperkussies. Baie keer het slegte dinge oor die mense gekom. Baie keer is die mense net aan hulself oorgelaat en is hulle toegelaat om ’n lat vir hul eie boude te pluk.

Vandag is daar nog steeds engele wat God se boodskappers is, maar ons is baie bevoorreg om ook die Heilige Gees te hê. Die Heilige Gees is nie net sporadies by ons betrokke nie, maar die hele tyd.

Met elke besluit wat ons moet neem, maak nie saak hoe klein nie, kan ons die Heilige Gees vra om ons te lei. Die probleem is dat ons so min ruimte vir Hom in ons lewe maak, dat ons nie Sy stem herken nie.

Daar is elke oomblik soveel stemme in ons kop. Die stem van finansies wat gewoonlik die hardste praat en die hardste druk. Dis dalk die stem van jou werk en jou bekommernis of jy môre nog ’n werk gaan hê. Dalk is dit jou gesondheid wat kliphard skree. Of is dit die oorverdowende stilte van nêrens inpas nie?

Ek sukkel ook om die stem van die Heilige Gees te hoor, deur al die stemme wat kliphard skree. Dit is egter my verantwoordelikheid om stil te word en die ander stemme in my kop eers stil te kry. Dan sal die Heilige Gees se stil stem hoorbaar word. Dan sal ek kan hoor na watter kant toe ek moet kies. Dan sal dit makliker word om binne God se riglyne te leef.

God praat vandag nog met ons. God praat op verskillende ander maniere ook. Hy praat deur ons omstandighede, deur Sy Woord en deur ons harte. God praat deur ander mense met ons en so ook deur drome en ons gedagtes.

Sorg dat jou ore oop is …

Teks

Hebreërs 2:1-4

Om oor na te dink
Hoor jy God praat?
Raak jy genoeg stil?
Hoe moet jy anders maak?

Gebed
Vader, dankie dat U vandag nog praat. Ek besef ek moet meer stilword om U fluistering te hoor. Lei my op die regte pad. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek