God praat
Ek staan dikwels verstom om te sien hoe God nooit tou opgooi nie. In my eie lewe kan ek sien hoe Hy my keer op keer uit die woestyn kom haal. Hy hou nie op nie. As die een manier nie werk nie, probeer Hy uit ’n ander hoek.
James gee so ’n kykie in sy lewe:
Ek het ‘n voordeel bo baie gehad omdat ek in ’n “kerkhuis” grootgeword het. Ek was ’n jeugleier. My boeta was ’n predikant en my pa, ’n ouderling, maar ek het nie vir Jesus regtig geken nie.
Ek is met ‘n breinvirus opgeneem en slegs deur Sy genade is ek volkome genees. ‘n Week later het Jesus baie hard met my gepraat. Ek is ‘n tweede kans gegee.
Voor my bekering was ek by baie dinge betrokke: dwelms, die okkulte, en so meer.
Die Vader het in 1980 ‘n engel op my pad gestuur wat 24 jaar sonder ophou vir my gebid het.
God hou nie op nie. God verloor nooit moed nie. Sy woordeskat bevat nie spreekwoorde soos: hy of sy is so gemaak en so gelaat staan, nie. God sal weer en weer probeer. Daarom bly Hy nooit stil nie.
2Maar die tyd is nou ryp dat God sy mense weer naby aan Hom wil bring. Daarom het Hy met ons kom praat deur sy Seun, aan wie God alles gegee het.
In die vorige bedeling het God deur priesters en profete met sy mense gepraat. Hy het deur kliptafels, ’n bos en selfs vuur op ’n altaar gepraat. Maar ongeveer 2 000 jaar gelede het daar ’n nuwe bedeling aangebreek en God praat op ’n splinternuwe manier. Hy praat deur sy Seun, Jesus.
Die grootste boodskap wat Jesus vir ons bring, is een van liefde. Die almagtige God is so lief vir ons, dat Hy bereid is om sy Seun, Jesus, aan ’n kruis te laat sterwe. Maar die liefde gaan verder. Hierdie liefde kom dra die skuld wat ons bymekaarmaak deur die sonde wat ons doen, sodat ons nie die pak daarvoor hoef te vat nie.
As’t ware kom glip Jesus tussen ons en die ewige vuur in en red ons uit die kake van die dood.
Watter ongelooflike, wonderlike, reddende boodskap is dit nie vir elkeen van ons nie! En hieroor bly God nie stil nie. Hy doen alles in Sy mag om Sy kinders die boodskap te laat hoor. Hy gebruik tot engele om vir ons te bid, selfs al kos dit 24 jaar, soos in James se geval.
Dis goed om weer die boodskap te hoor. Dis goed om te weet God praat nog vandag. Dis goed om te weet dat die tyd nou reg is. Laat ons aanhou bid. Dalk is ons die engel wat nie moet ophou bid nie.
Teks
Hebreërs 1:1-4
Om oor na te dink
Hoor jy vir God?
Wat beteken Jesus vir jou?
Wat beteken Jesus vir die geliefdes om jou?
Gebed
Jesus, hoe kan ’n mens dankie sê vir U wat op die regte tyd gekom het om vir my sonde aan ’n kruis te gaan hang? Eintlik is so ’n groot liefdesdaad te veel vir my kop om rêrig te verstaan. Tog wil ek uit dankbaarheid hierdie liefde vandag in my wêreld gaan uitleef. Amen.