God roep jou nog steeds
Kliek hier om die teks te lees: 1 Korintiërs 7:17-24
Tannie Liza verloor haar tweede man en voer ’n kluisenaarsbestaan. Sy het gedink dat dit AVBOB sal wees wat haar voete eerste by haar huisie sal uitdra, maar die Here het ander planne gehad, sê sy. Haar lewe het verander toe sy na ’n aftreeoord moes gaan:
En hier waar ek nou reeds 7 maande in die aftreeoord woon, weet ek dat Hy my hierheen gestuur het om ook my deel te doen vir dié van hulle wat nie meer hulle eie motors het nie of wat te oud is om te kan bestuur. Ons is so naby aan alles. Binne 15 minute het ek die buurvrou, of iemand anders, by die winkel en weer terug in haar huis. Ek het weer begin lewe vandat ek vir jare na my man se dood soos ’n kluisenaar probeer bestaan het. Op my eie in ons huis. Hierdie plek het my laat besef jy het jou medemens om jou nodig.
Tannie Liza verstaan iets van die groot waarheid wat Paulus aan die Korinte wil oorbring. Dit gaan nie oor besnydenis of getroud wees nie, maar eerder om te luister wat God van jou verwag en presies dit te doen: 19… Wat eintlik van belang is, is of julle luister na wat God van julle vra.
Ons kan so maklik verval en ons tyd mors om te gesels oor teologiese issues wat eintlik nie veel bydrae tot die kern van die evangelie nie. En terwyl ons so baklei, hoor ons nie hoe God met ons praat nie. God het vir ons elkeen ’n opdrag. Hy wil ’n verskil maak in ander mense se lewens deur jou. Hy wil hê jy moet sy hande en voete wees. Soos vir Tannie Liza, wil Hy ook vir jou gebruik om klein dingetjies in ander mense se lewens te doen. Dit sal ’n groot impak op hulle lewens hê. Die belangrikste is dat ons eerstens sal besef dat dit die opdrag is wat God vir ons elkeen het. Daarom moet ons ons ore oopmaak en luister na wat God vir ons elkeen sê.
Gelukkig hoef jy nie bang te wees dat jy nou jou tasse moet pak nie. Soos in die vorige skrywe, stel Paulus weer die ouens op hulle gemak:
Die goeie nuus van dié roeping is dat ons nie alles moet verkoop en ver in diep, donker Afrika moet gaan werk nie. 20Elkeen van julle moet doodgewoon met sy lewe aangaan, dáár waar hy was toe hy die stem van die Here gehoor het. As jy vir ’n baas gewerk het, moet jy net daar bly en ’n verskil maak in jou omgewing. As jy self die baas is, moet jy net daar bly en juis ’n verskil maak in die lewens van die mense wat vir jou werk.
Op ’n manier is dit seker die moeilikste om daar waar die mense jou ken, te begin werk. Om liewer nuut te begin by mense wat ons nie ken nie, waar die mense nie van al ons ou streke en weë weet nie, sal seker makliker wees. Tog is dit nie wat God van ons verwag nie. Dit is juis daar waar die mense jou ken en van jou ou weë weet, waar jy ’n baie groter impak kan hê. Dit is hoekom God jou juis daar wil gebruik. Net jy kan daar ’n groot verskil maak.
Ons moet onthou dat God ’n duur prys vir ons elkeen betaal het: Sy Seun het aan ’n kruis gesterf sodat ek en jy en al die ander mense by die werk en in jou vriendekring kan feesvier in die ewige lewe. God wil jou gebruik om dit te gaan uitleef daar waar jy jou lewe leef. God wil jou gebruik om die mense te wys wat dit beteken om die sonde af te sterf en ’n Nuwe Lewe aan te neem. As jy nou trek en op ’n ander plek jou roeping wil gaan uitleef, wie gaan vir die mense waar jy jou nou bevind, wys wat God kan doen? Gaan hulle nie juis in die koue en donkerte gelaat word as jy nie daar Jesus se liefde gaan leef nie?
God roep vanoggend weer kliphard tot ons almal uit deur die woorde van Paulus: 24My liewe vriende, staan julle plek vol juis daar waar julle was toe die Here julle as sy kinders geroep het. God is mos by julle. Kom ons maak soos Tannie Liza. Ons doen net die klein dingetjies wat ’n groot verskil in ander se lewens maak. Dan sal ons ook anders wees.
Om oor na te dink
Wat is jou roeping?
Wat moet jy doen?
Wat druk God op jou hart?
Gebed
Vader, U roep ons elkeen op om ’n verskil te gaan maak daar waar ons woon, werk en speel. Help ons, Here, om nie net te hoor nie, maar ook te luister en om iets te doen. Amen