God se Woord in vandag se woorde

God sal beskerm!


Ek wonder op watter plek is jy vandag in jou lewe? Ek praat so baie daarvan dat ons elkeen in ’n seisoen is, sommige in goeie seisoene, sommige in nie sulke goeie seisoene nie.

Susan se seisoen, nee seisoene, was nie so vars nie:

My lewe het die laaste 8 jaar ’n baie seer draai gemaak. Ek het my man aan kanker verloor en my seun aan drugs. Ek is weer getroud en my man het vir my dinge weerhou voor die preekstoel wat ek later eers uitgevind het.

My lewe voel vir my soos ‘n berg met geen einde nie. Ek lewe saam met my man se leuen en word daardeur vertrap. Al wat in my kop aangaan is om my eie lewe te neem. Daar is vir my geen hoop nie.

Ek bedien armes. Soveel mense het ek al deur my Jesus ontmoet, maar my skouers kan nie meer die vrag dra nie.

Mag ek bid dat Jesus my kom haal? Mag ek bid vir die dood en Jesus smeek daarvoor? Sal ek hel toe gaan? Hoe lewe ’n mens ’n lewe van seer en vernedering?

Gee my asseblief ’n antwoord! Ek staan met my rug teen ’n muur. Nooit sal ek iemand enige skade doen nie, juis omdat ek weet hoe seer dit is. Help asseblief!

Soos my tjommie, Frik, altyd vra: “Is God missing in action?” Dis die een curve ball na die ander en die een swak seisoen op die ander. Hoekom gebeur dit met my? Hoekom moet ek so swaar kry? Waar is God dan? Gaan die bose oorwin?

Dian is nie vêr hiervandaan nie:

Ek doen goed. Waar ek kan, help ek. Ek hanteer ander met respek. Ek is eerlik in alles wat ek doen. Ek neem verantwoordelikheid vir my aksies. Ek doen wat reg is.

Ek is nie op ‘n goeie plek nie, ek ondervind prakties en voel in my lewe presies die teenoorgestelde as wat jy sê en wat in die Bybel staan. Dit maak dit vir my moeilik om in iets te glo as ek die heeltyd net in die gesig geskop word en net teëspoed en ellende ervaar.

Ek dink dis beter om eerder aan niks te glo nie.

Jammer as ek negatief is, maar miskien moet ek begin bid dat negatiewe en slegte goed my tref. Dalk sal ek dan iets positief en goed kry.

Ek bid nie meer nie …

Dikwels is my eie woorde te min en te skeef om te help en te bemoedig. Selfs teksversies is ook baie keer te klein om oor die groot gate te span. Maar tog wil ek dit waag met ’n stukkie getuienis van Paulus. Hy het ook deur erge en woeste seisoene gegaan. En as hý dan die volgende kan sê, moet ons vir seker daarna luister en dit glo: 18Die Here sal my beskerm teen elkeen wat my aanval en wil seermaak. Ek sal uiteindelik saam met Hom in die hemel wees waar Hy regeer. Hy moet vir ewig grootgemaak word. So sal dit wees.

Dit moet ons glo. Dit moet ons motto wees. Hieraan moet ons vir lewe en dood vashou!

Teks
2 Tim 4:9-18

Om oor na te dink
Hoe lyk jou lewe?
Sukkel jy ook?
Glo jy dat God jou in Sy hand het?

Gebed
Vader, hierdie woord het ek so nodig! Ek kan nie meer nie. Ek kan nie meer op my eie nie. Alles raak eenvoudig net te veel. Daarom vra ek Here, dat U my asseblief nou moet help. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek