God se Woord in vandag se woorde

God sal so maak!


My hart bloei vir ’n goeie vriend van my wat vrek swaar kry. Hy en sy vrou het ’n roeping ontvang om die hoof oor honderd te wees. Sy vrou wou nie gaan nie, toe kom die Here en gee vir haar nie een nie, maar twee tekens dat dit presies die plek is waarheen Hy wil hê hulle moet vlieg.

My vriend en sy vrou is uit hul vel van geluk. Hulle doen goed en almal word na ’n volgende vlak begelei, behalwe die wat lyf weggesteek het en nou moet begin werk. Dis ’n lang storie, maar die uiteinde is dat hy gevra word om weg te vlieg. Hy baklei verwoed, want dit is hul roeping, maar dis die een curve ball na die ander.

Ons vriende probeer hulle ondersteun, maar ek besef dit moet so moeilik wees vir hom as hy die hele liewe tyd teen die een muur en dan teen nog ene te staan moet kom. Die mure is te hoog vir ’n mens om oor te klim.

Selfs die dag voor hy sy saak weer moet gaan verdedig, kry hy ’n oproep van ’n persoon wat hy net ’n dag of twee tevore besoek het. Sy en haar man het Covid! Hy mag dus nie teenwoordig wees om sy saak te verdedig nie.

Dit maak ’n mens lam. Dit laat ’n mens se hoop in stukkies breek. Dit laat vertwyfeling net so groot soos ’n reus voor jou opstaan. Dan wonder jy oor jouself en dan wonder jy of God werklik daar is.

Dan maak die vers nie lekker sin nie: 17Daarom het God ook ’n eed geneem. Hy wou doodseker maak dat nie Abraham of sy nageslag sou twyfel dat Hy sal doen wat Hy beloof het nie.

Hy wou doodseker maak dat Sy nageslag nie sal twyfel nie …

Ek leer so baie by my vriend wat swaarkry. In dieselfde WhatsApp wat hy my vertel van die Covid en dat hy nie sy saak kan bywoon nie, sluit hy soos volg af: “Die Here is so adamant dat dit Sy geveg is, Hy wil my nie eers daar hê nie!”Met ’n laggende hoop smileys wat daarop volg.

Die Here het die afgelope tyd al soveel keer, deur verskillende mense en gebeurtenisse vir hom gesê dat Hy, wat God is, die geveg vir hom sal veg. Dis ’n belofte van God aan hom.

En al is dit moeilik vir hom, al wil hy self daar wees en die bokshandskoene aantrek en ja, ek ken hom, hy sal wil, staan hy terug en glo dat God Sy belofte sal nakom. Dis nie vir hom maklik nie, maar nou skuif hy eers die twyfel suid en hou met alles in hom vas aan die belofte: “God sal die geveg namens my veg.”

God het ’n eed aan Homself gemaak. Met respek gesê, God het gesê: “Ek belowe, op My erewoord, Ek sal vir Abraham en sy nageslag nooit in die steek laat nie. Ek sal dit wat Ek vir hulle belowe het, altyd en altyd nakom!”

My vriend hou daaraan vas. Jy kan ook maar daaraan vashou. Soms is dit al wat ons kan doen.

Teks
Hebreërs 6:13-19

Om oor na te dink
Hoe dik loop jou twyfel?
Glo jy dat God Sy beloftes in jou lewe waar sal maak?
Waar kort jy God se beloftes om nou waar te word in jou lewe?

Gebed
Ons Here, ek het so nodig dat U beloftes waar sal raak in my lewe. Dit gaan nie so goed nie en ek besef maar net weer dat ek dit nie op my eie kan doen nie. Vergewe asseblief al my sonde. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek