God se ander kant
My pa was ’n wonderlike man. Daar is baie dinge wat hy goed kon doen en een van hulle was om vir ons pak te gee. As ons iets verkeerd gedoen het, het ons dadelik na ons ma gehardloop, want haar houe kon ’n mens nie voel nie. Gelukkig sou my pa ons nie weer foeter as my ma dit klaar gedoen het nie.
Ons kinders het presies geweet wat die grense was. Ja, my pa het baie dinge toegelaat wat ander ouers dalk nie sou toelaat nie, maar as ons dan uiteindelik oor die grensdraad gespring het, het ons geweet wat kom. Dan het ons ons slae gedienstig en gedwee aanvaar. Goed gehuil en jammer vir onsself gevoel, maar dan was die lug weer skoon en kon ons weer lekker tussen die lyne gaan speel.
Op ’n manier werk God effe anders. God soek aanmekaar maniere om ons nie te straf nie. Dit is juis die rede hoekom Jesus aan die kruis ons straf gedra het. Ons is stout en verdien ’n pak slae. Tog is dit Jesus wat die pak vat en vir die straf van ons sondes sterf. Dis soos ek wat my pa se kar steel en hom stamp en my broer druk in en sê hy het die kar gesteel en gaan buk vir ses van die bestes.
Dis die prentjie wat ek van God het. ’n Liefdevolle Vader wat die heeltyd net vir sy kinders cover.
Maar daar is ’n ander kant van God waaroor ons nie maklik praat nie. Daar is ’n kant waar God ook genoeg gehad het van die mens. Dit is waar die mens te vêr gegaan het en God ’n pen inkap en sê: Nou het jy só vêr afgedwaal dat jy daar doer maar die gevolge moet dra.
Kyk wat sê vers 6: Hierdie soort dinge maak dat God mense straf. Hulle steur hulle mos nie aan wat God wil hê nie.
Ek is ’n prentjie-mens en ek teken gedurig prentjies in my kop van wat woorde nou eintlik beteken. Die prentjie van dié woorde is nie mooi nie en ek maak vinnig die boek in my kop toe.
Ons weet al seker wat “hierdie dinge” is waarna daar verwys word, want ons staan nou al drie keer stil by die gedeelte. Maar kom ons lees dit maar weer, want sommige van ons moet mos ’n paar keer hoor voor ons luister: 5Moenie toelaat dat dinge waarvan Jesus nie hou nie, enige rol in julle lewe begin speel nie. Raak daarvan ontslae sodra dit in jou lewe kop uitsteek. Ek praat van dinge soos ontoelaatbare seks of vuil gedagtes wat op vieslike optrede uitloop. Om sulke dinge net te loop en begeer is al verkeerd. En dan is daar mense wat nooit genoeg kan kry nie. Hoe meer hulle het, hoe meer wil hulle hê. Asof dit hulle god is, wy hulle al hulle tyd en energie daaraan om net al hoe meer in die hande te probeer kry.
Terwyl ek skryf, kom ’n epos van Jay (skuilnaam) in:
Hope you are well. It’s sad for me to send you this mail, but it will probably be the last mail from me for now. The court found me guilty on Wednesday for corruption and I will be sentenced in two weeks’ time.
Ek weet nie presies wat Jay aangevang het nie. Dalk kon hy ook eenvoudig nie genoeg kry van iets nie. Dis so seer om te sien hoe sy lewe heeltemal verwoes word deur die straf.
God vergewe keer op keer, maar soms, as ons nie wil luister nie, dan…
Teks
Om oor na te dink
Wanneer dink jy is ’n mens aan die verkeerde kant van God?
Speel jy soms daar?
Wat moet jy in plek kry om nie daar uit te kom nie?
Gebed
Vader, ek wil U nie teleurstel en voortgaan met dinge waarvan U glad nie hou nie. Dankie vir die riglyne in U woord wat my help om te weet hoe U wil hê dat ek moet leef. Amen.