God se Woord in vandag se woorde

God se genade is groot genoeg


God se genade is so groot. “Nog voor ons kon kies, kon vra,” sing ons in die kerk, het God al vir ons gekies. 5Nee, omdat God so goed is, sonder dat julle iets daarvan verdien, is julle uit die kloue van die sonde gered. Julle is nou Jesus s’n, en wat Jesus s’n is, is julle s’n.

Dis genade. Dis al.

Dan is dit so sleg as mense God se genade verkleineer en sommer self besluit wie gaan hemel toe en wie nie. ’n Dame, kom ons noem haar Sussie, vertel dat haar pa met elke liewe predikant gestry het oor die bestaan van God. Die dag met sy begrafnis staan die predikant op die kansel en sê dat hy ongelukkig nie die gewone “troos” boodskap kan gee nie, want almal weet mos dat die oorledene nie geglo het nie.

Vir Sussie was dit baie sleg en sy besluit toe om haar eie storie te skryf soos wat sy kies om te glo haar pa se laaste sterwensure verloop het. Dis ’n lang storie, maar so aangrypend:

“Aaaaag jaaa wat!” gaap Herman terwyl hy sy bene van die bed af op die grond sit.  Met ’n effense kreun – meer uit gewoonte as uit swaarkry, want die ouderdom behandel hom eintlik betreklik goed op 77 – kom hy orent.  Dis nog douvoordag, skaars vyfuur, en met die winter sterk in aantog is daar nog nie eens ’n flou oggendskynsel wat deur sy gordyne loer nie.  Hy ken egter sy kamer goed genoeg om in die donkerte die ligskakelaar met die eerste probeerslag raak te vat.  Die 60 watt gloeilampie sorg dat die lig nie té skerp is nie, maar tog moet hy sy oë ’n rukkie toeskreef om die oorgang van donker na lig makliker te maak.

Tydsaam – soos meestal in sy lewe (net soms raak hy haastig en dan sommer duiwels haastig!) – stap hy na die bedkassie waarop sy koffiebottel met die laaste bietjie van gisteraand se koffie staan.  Hy buk af en tel sy koppie op waar hy dit onder die bed ingestoot het voordat hy gisteraand aan die slaap geraak het.  Die laaste bietjie koffie is skaars louwarm, maar hy ken hom so en drink hom al vir jare lank elke oggend so. Op die ingewing van die oomblik besluit hy om ’n stukkie beskuit by te sit, waarna hy dan weer onder die komberse sal inkruip en sluimer tot dit tyd is om vir ontbyt eetsaal toe te gaan.

Dis net toe hy sy hand in die plastieksakkie vol beskuit steek, dat hy dit hoor.  ’n Geluid by sy deur.  “Nou wat…”  Hy was op die punt om vir die ouetehuis personeellid te vra wat de ongeluk hulle so vroeg by hom soek, maar hy stop sy sin halfpad toe hy sien dis nie ’n bekende gesig nie.  Altans, hy dínk nie dis iemand wat hy ken nie, maar hoe meer hy kyk, hoe meer lyk die man tóg vaagweg bekend.  “Môre Meneer.  Ek’s bevrees jy’s by die verkeerde plek.” 

“Môre Herman.  Ek het gehoop jy sal al wakker wees.”

Die besoeker se totale kalmte laat Herman se lippe skuins trek in ’n glimlag.  Hy’t nog altyd gehou van kalmte.  Dis waarom die natuur hom sy lewe lank so na aan die hart lê.  Jy sien nooit die mensgemaakte gejaagdheid by wilde diere nie.  Dis asof elke skepsel instinktief weet wat hy moet doen en waarheen hy op pad is, en hy doen dit grasieus dog vasberade.

Herman het nog nie dikwels in sy lewe verleë gevoel nie, maar die oorweldigende gevoel dat hy hierdie man – wat hom so blatant op sy naam noem – moet herken, laat hom nou ietwat verleë rondtrap.  “Ken ons mekaar, Meneer?”

“Is daar genoeg koffie in jou bottel vir nog ’n beker vol?”  Die besoeker maak homself gemaklik op die bed, en Herman gaan sit geamuseerd in sy lazy boy, strek sy voete voor hom uit en lig die leë koffiebottel op.  “Ongelukkig het ek nou-net die laaste bietjie…. Of nee wag, hier’s wragtig nog ’n lekseltjie oor!”  Die besoeker neem die koffiebottel, haal ’n beker met ’n lelike chip in die oor uit die bedkassie, en skink sy beker tot bo toe vol. 

“Ek het te hore gekom van jou twyfel.”

Soos handomkeer verander Herman se houding.  “Ag so.  Jy’s ’n dominee.  Geen wonder.  Ek het al met soveel dominees hierdie gesprek gehad, dis geen wonder ek kan nie meer name by die al die gesigte plaas nie.  Maar ek het geweet ek ken jou van iewers af!  Dominee, as jy my ’n guns sal doen…”, Herman kom orent en maak die deur oop “… vat jou beker koffie met jou saam en gaan preek vir een van die oumense wat lus het vir luister.  Ek was net op pad om nog ’n uiltjie te knip.”

Die besoeker sit roerloos. “Goed, ons praat oor iets anders. Maar jy sal my maar eers moet verduur, niemand anders in hierdie gebou was al wakker toe ek hier aangekom het nie, en buitendien wil ek eers proe of jou beskuit darem eetbaar is!”

Herman wil-wil hom finaal vererg, maar dan neem sy geamuseerdheid weer die oorhand.  Daar’s iets in hierdie man wat hom fassineer… boei.  En dis nie elke dag dat dit gebeur dat iemand hom binne die eerste 2 minute boei nie.  Stadig maak Herman die deur weer toe en gaan sit.

“Nou sê dan nou maar jou naam en waar ons mekaar al raakgeloop het,” sê-vra Herman.

“Hierdie beskuit is glad nie te sleg nie.  Kan ek nog ’n stukkie neem?”

Al kouende beduie die man na buite.  “Smaak my die winter is nou op ons.  Buite is dit sommer lekker koud.”

Vir die volgende 20 minute gesels die vreemdeling so onderhoudend dat Herman skaars nodig het om kommentaar te lewer.  Maar snaaks – vandag pla dit hom nie.  Gewoonlik is hy die een wat die een storie ná die ander kan vertel sonder dat sy luisteraars behoorlik besef dat een storie eintlik later in vyf ontaard het.  Maar dis asof hierdie besoeker ’n manier van praat het waarna hy vir ure sal kan luister.  En die dinge wat hy sê, is meer as oppervlakkige small-talk – hy gesels interessant en raak plek-plek nogal filosofies.  En Herman hou self nogal daarvan om filosofies te word, daarom luister hy gefassineerd – sy wrokkigheid van vroeër verbasend gou vergete.

Herman vang homself selfs dat hy lekker saamlag wanneer daar ’n grappigheid na vore kom, en bo alle verwagtinge begin geniet hy hierdie vroegoggend kuiertjie terdeë.

Toe die besoeker uiteindelik ’n slag asem skep vir ’n slukkie koffie, neem Herman sy kans waar:  “Nou dominee, waar het jy grootgeword dat jy ook so lief is vir die natuur?”

“Man, Herman, ek het eintlik sommer hier naby rond grootgeword.  Ek ken eintlik hierdie wêreld baie goed.”

Voordat Herman op ’n beter antwoord kan aandring, staan die man op en stap na ’n tafeltjie waar ’n paar blaaie papier rondlê.  Hy sit sy koffie op die tafeltjie neer en tel een van die papiere op.  “Gee jy om as ek lees?”

“Lees maar. Dis sommer my eie powere poginkies…”

Die besoeker raak vir ’n paar minute stil terwyl hy sy koffie opdrink en kort-kort ’n bladsy omblaai.  “Jy beskryf Sutherland hier as ’n vrou.  ’n Vrou met ’n volmaakte liggaam vol wonderlike kurwes.  Enige iemand wat sóveel waardering het vir elke klein blommetjie en goggatjie, moet regtig baie na aan die natuur leef.”

En skielik, sonder dat Herman bedag daarop is, skiet die vraag op hom af:  “Hoe kan iemand wat so verwonderd is oor die skepping, nié in ’n Skepper glo nie, Herman?”

Die vraag bly hang dik tussen hulle, nie een roer ’n ooglid terwyl hulle mekaar reguit in die oë kyk nie.  “Dominee, my lewe lank soek ek ’n teken.  Net één enkele teken, wat vir my sal wys daar’s ’n God.  As ek een, net een teken gekry het in my 77 jaar, sou ek geglo het.  Dan sou ek bereid gewees het om my twyfel te laat vaar.  Maar niemand, geen man of vrou, en nog minder enige dominee, kon ooit vir my daardie teken gee nie. Niemand kan vir my sê waar is hierdie God wat hulle so slaafs aanhang nie. Niemand het hom nog ooit self gesien nie, nog ooit gehoor hoe hy praat nie.  En vandag sê ek vir jou – jy sal hom ook nie vir my kan wys nie.”

“Herman, hierdie blommetjies waarvan jy praat, hierdie landskap, hierdie wilde diere en mikroskopiese goggatjies waaroor jy jubel in jou geskrifte – elkéén van hulle is genoeg bewys.  Hoekom is dit vir jou so moeilik om dit te glo?”

“Want dis pure twak, dis hoekom!”  Die laaste sin weergalm in die kamer, en vir ’n paar oomblikke is dit doodstil tussen die twee mans.

Dan is dit die vreemdeling wat weer eerste praat:  “Herman, ek dink daar’s min mense wat dit besef, maar ek weet dat jy werklik regdeur jou lewe met ’n opregte hart gesoek het.”

Herman snork verontwaardig.  “Ag so, jy weet.  Ten minste maak jy nie die fout om te dink nie.”

“Nee, ek weet.  En juis daarom, omdat jy regtig daarna smag, het ek besluit om betyds vir jou ’n teken te gee.”

“Jy, dominee?”  ’n Sardoniese laggie klink op in sy keel.  “Nee wat, nie jy nie.  Jy praat vreeslik mooi en kalm en interessant, maar ’n teken kan jy nie vir my gee nie.”

“Kom ons drink eers nog ’n koppie koffie.”  Die besoeker neem die koffiebottel waar dit op die bedkassie staan, en skink albei die leë koppies vol.

Herman se oë vernou.  Hy weet hyself het al douvoordag die laaste koffie uit daardie bottel geskink, en hy besef nou eers dat die vreemdeling met sy aankoms reeds nog ’n koppie koffie daaruit gekry het, en nou nog 2 koppies daaruit vol skink. 

“Enige kulkunstenaar kan jou dit nadoen, dominee.  As jy nou werklik dink ek is liggelowig genoeg om dít as ’n teken te sien, sit jy die pot mis.”

Die besoeker glimlag, sit sy koffie weer op die tafeltjie neer en kom staan dan langs die lazy boy.  “Herman, herken jy my werklik nie?”

Net ’n oomblik is die aarseling sigbaar op Herman se gesig.  Maar die besoeker spring hom voor met ’n antwoord:  “Jy soek al so lank, dat jy nie meer besef wanneer jy gevind het nie.”

Herman se hand beweeg vinnig na sy regterbors, waar ’n steekpyn onverwags deurskiet.  “Moenie bang wees nie, Herman.  Ek sê mos Ek het besluit om betyds vir jou jou lang-gesoekte teken te bring.  Elke dag van jou lewe het Ek die begeerte in jou hart geplant om in die natuur te wees, omdat Ek daar die meeste geleenthede gehad het om tekens vir jou te gee.  Elke blom wat jy bestudeer het, het Ek spesiaal vir jou gemaak en op jou wandelpad geplant.  Elke oggend was my roepstem in die voëlgesang waarna jy so graag gelê en luister het.

Elke nuwe hondeliefde wat in jou lewe gekom het, het ek spesiaal vir jou uitgesoek. Ek was in die honde se aanbiddende oë en liefdevolle stertswaaie. Maar jy kon my nie herken kry nie. Nou is Ek self hier, by jou, langs jou, binne jou, omdat Ek jou liewer het as wat jy nog ooit enige mens of dier of plek gehad het. Voel jy hoe jou hart saamtrek, Herman?  Dit is omdat jou hart My reeds herken. Jou brein sê dalk nog vir jou dis nie moontlik nie, maar jou hart het my reeds liefgekry.  Ek is hier om jou te kom haal.  Op hierdie oggend van die 14de Mei 2009 kom jou soeke tot ’n einde.  Want noudat jy jou teken gekry het, is daar geen krieseltjie twyfel meer in jou oor nie. Nou kan jy saam met my kom, die tyd is reg.”

Stadig maar seker begin die donkerte in Herman lig word. Die oorgang is tydsaam, soos Herman dinge verkies. Die pyn in sy hart vervaag, ’n leeftyd se twyfel verkrummel. Hy steek sy hand uit na sy Skepper, die Skepper na wie hy so lankal smag. Uiteindelik, dink hy, uiteindelik…

Die matrone wat Herman se liggaam tussen sy bed en sy bedkassie kry, skud haar kop in bejammering. Foei tog, dink sy – hy het nog ’n halwe stukkie beskuit in sy hand, wou seker nog vir hom koffie geskink het.  Of nee, sien sy dan, hy het tog koffie geskink en dit nie uitgedrink nie, hier staan sy beker op die bedkassie. Toe sy omdraai, sien sy ’n tweede beker, ook vol koffie, op die tafeltjie staan.  Stomme man, gaan die gedagte deur haar kop, hy het seker in sy laaste oomblikke deurmekaar geraak en twee keer geskink. 

Sjoe!

Susie verstaan ’n stukkie van God se genade.

Teks

Efesiërs 2:1-10 

Om oor na te dink

Hoe groot is God se genade?

Is dit genoeg vir jou?

En vir ander?

Gebed

Vader, U loop oor van liefde. U liefde is so groot dat ons dit nie eintlik kan verstaan nie. Nog voor ons ons oë vir die eerste keer hier op aarde oopgemaak het, nog voordat ons die eerste tree gegee het, het U reeds vir ons gekies. Nie op grond van wat ons gedoen het nie, maar enkel uit U genade alleen! Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek