God se Woord in vandag se woorde

God se plan in my swaar


Paulus sit in die tronk en skryf hierdie brief aan die mense van Efese. Eintlik is hulle die oorsaak dat hy gevange geneem is. 1Juis daarom sit ek, Paulus, hier vir Christus in die tronk. Ek is in die tronk gegooi omdat ek vir julle wat nie Jode is nie van Christus vertel het. Niks keer Paulus om die evangelie uit te dra nie. Selfs hier waar hy in die tronk is, maak hy ’n plan om aan te hou preek en hy sit dit wat God aan Hom bekend gemaak het op papier neer.

Ek wonder of ons al hierdie wonderlike woorde van Paulus vandag nog sou gehad het as hy nie in die tronk was nie. Sou hy geskryf het of sou hy net na die ouens van Efese getoer het om vir hulle die nuus te gaan vertel? As dit so was, sou die waardevolle nuus dalk mettertyd verlore gegaan het aangesien dit nêrens neergeskryf was nie.

Sien jy die plan van God? God wil hê dat die nageslag, ons ingesluit, hierdie wonderlike nuus moet hoor. Die beste manier waarop dit kon gebeur is om toe te laat dat Paulus dit op papier sit. Die tyd wat Paulus in die tronk is, kry hy tyd om dit te doen. So draai God ’n negatief om in ’n positief.

Paulus kon heel waarskynlik met God geworstel het en vir ure lank by Hom gekla het oor die feit dat hy nou in die tronk sit. God het hom geroep om na die verre lande te gaan en die evangelie uit te dra. Nou sit hy in die tronk en kan nie sy roeping uitleef nie. Wat nou God?

Nee, Paulus kla nie en gebruik die tyd om eerder te skryf. Die gevolg is astronomies en al die geslagte het nou toegang tot die geskrewe evangelie.

God gebruik baie keer die omstandighede waarin ons ons bevind om iets anders reg te kry. Ons sien nie altyd die groter prentjie nie. Ek is seker daarvan dat Paulus nie die prentjie kon sien van ons wat amper 2 000 jaar later sy woorde lees en dat dit ons help om te glo en God te leer ken nie.

Ina ervaar dit aan haar lyf:

Ons huis het verlede jaar tot op die grond afgebrand en ons het nie versekering gehad nie, want ons het so stuk-stuk aangebou. Ek het nooit verwyt nie, net gehuil, want daar was ook baie memories in. Ek het net gewonder of dit dalk God se manier is om my te help om die verlede in die verlede te los en werklik ’n nuwe begin te maak.

Ek het geweet hierdie goed help ons om sterker aan die ander kant uit te kom en weer te laat besef Hy is daar vir ons, in elke omstandigheid. Soos my seun ook sê, moenie bekommerd wees oor die huis nie mamma, wees dankbaar mamma-hulle het nie saam met die huis omgekom nie.

So moet ons lewe, om dankbaar te wees vir wat ons het en nie wat ons nie het nie. En ek hou van my dankbaarheidsbril, want dit is lekker om elke dag sy genade en liefde te aanskou, so onverdiend.

Kom ons wees eerlik. Die lewe is nie altyd maklik nie. Soms kom die een storm na die ander oor ons gerol en ons sukkel om kop bo water te hou. In hierdie tye moet ons styf aan God vashou en op Hom vertrou. Ons moet glo dat Hy die negatief sal omdraai in ’n positief. Op ’n manier moet ons probeer berus en al is dit swaar, aanhou om die evangelie uit te dra. God sal alles ten goede laat meewerk. Al is dit dalk nie nou nie, maar wel later.

God, gee ons krag!

Teks

Efesiërs 3:1-13

Om oor na te dink

Hoe lyk jou omstandighede?

Sien jy die groter prentjie?

Hoe is God aan die werk?

Gebed

Here, dit is nie altyd maklik om die lewe te leef nie. Soms kry ek so swaar dat ek wil moed opgee. Dankie dat ek weet dat U die negatiewe in ’n positief kan omdraai. Help my om nie te veel te kla nie, maar deur te druk en te bly glo dat U my en ook ander hierdeur sal help. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek