God se Woord in vandag se woorde

God se seën vir jou


Ons nooi julle uit om Sondag, 5 April om 9h00 in te skakel by Kruispad.com se aanlyn-erediens by https://kruispad.online.church/ en ervaar so ‘n geloofsgemeenskap op ‘n nuwe manier.

In Numeri 6 vertel God vir Moses hoe die priesters die volk moet seën: 22Die Here het vir Moses gesê: 23“Sê vir Aäron en sy seuns om die volgende woorde te gebruik wanneer hulle die mense van Israel seën as bewys van God se goedheid in hulle lewe:
24Die Here sal julle seën en julle oppas. 25Die Here sal met deernis na julle kyk en baie goed vir julle wees. 26Die Here sal julle gebede beantwoord en vir julle vrede gee.
27“Dit is hoe Aäron en sy seuns my Naam moet gebruik wanneer hulle die Israeliete seën. As hulle dit so doen, sal Ek sorg dat dit met hulle goed gaan.”

Sjoe, dit is darem ’n wonderlike seën en belofte wat God direk vir die mens kom gee het. Dit is net so jammer dat ons hierdie seënbede vergeet het en nie meer oor mekaar uitspreek nie.

Gelukkig het Paulus dit nie vergeet nie en begin en eindig omtrent elkeen van sy 13 briewe deur die seën oor die lesers van sy briewe uit te spreek. Soos nou weer hier: 22Mag die Here by jou bly en mag Hy baie goed wees vir julle, ver meer as wat julle verdien.

Met dié seëngebed word God gevra om saam met die hoorders op hul pad te gaan, maar meer nog. Dit vra dat God hulle sal beskerm en mooi na hulle sal kyk. Daar word gevra dat God Sy arms om hulle sal hou en dat hulle Sy teenwoordigheid tasbaar sal ervaar.

Wat baie sterk uit veral Paulus se seënbede kom, is genade en vrede. En wat meer wil ’n mens hê? Genade ontvang ons elke dag by die hope. Vrede ook. Dis net jammer dat ons mense self die vrede verander in onvrede.

Wat vir my nog meer uitstaan in die gesprek tussen God en Moses is dat daar ’n reaksie van God se kant is as ons die seën oor mense uitspreek. Hy sal sorg dat dit met die ontvangers van die seën goed sal gaan.

Ai, watter wonderlike vergete gereedskap is hierdie nie! Ons moet dit weer optel en gebruik, want dit het wonderlike krag. Ons moet besef watter verskil ons in ander se lewens kan maak deur die seën van God oor hulle uit te spreek. Nie omdat ons eintlik enige iets daarmee te doen het nie, maar omdat God dit wil doen.

Ons moet weer glo en vertrou dat God ook Sy kant van die belofte sal nakom.

Kom ons maak ’n punt daarvan om elke keer as ons mense groet, God se seën oor hulle uit te spreek. Gaan deur God se Woord en gaan kyk na al die seëngroete en vra vir die Heilige Gees om die seën waarmee jy ander moet groet vir jou sal uitstaan.

Daarom wil ek jou vandag groet met ’n seën: Mag God Sy arms vandag om jou vou en jou uit jou sokkies seën. Mag die krisis op die horison soos mis voor die son verdwyn. Mag Sy genade jou vol maak en mag dit oorloop in ander wat met jou skouers skuur. Mag jy al die pad liefde ervaar. Mag God vir jou regtig goed wees en jy met dankbaarheid oorspoel word.

En soos ’n klein kindjie glo ek dat dit waar sal word. Amen – laat dit so wees!

Teks
2 Tim 4:19-22

Om oor na te dink
Glo jy in God se seëninge?
Spreek jy dit oor ander uit?
Oor wie moet jy dit uitspreek?

Gebed
Here, bly asseblief naby my en wees goed vir my, ver meer as wat ek verdien. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek