God se waarheid of nie
(Sjoe, dit was ‘n wonderlike en geseënde aand saam met Elvis Blue by gister se bekendstelling van Loop en Val/ Get Up and Go . Saam met ‘n duisend ander mense kon ons feesvier en lekker saam kuier. Soli deo Gloria! Indien jy ‘n kopie van Loop en Val wil bestel, kliek hier. Woensdagaand maak ons weer so in Pretoria. Daar is nog net ‘n paar plekke beskikbaar. Om te RSVP kliek hier.)
Elkeen van ons het ’n verantwoordelikheid om self te sif aan die inligting wat by ons ore en oë inkom om seker te maak dat dit binne God se waarheid pas. Daar is so baie mense wat elkeen sy eie verstaan van die Bybel as die enigste en regte manier van verstaan uitbasuin. Wat is die waarheid en wie sit die pot mis?
Die garage waar ek my bakkie laat diens se drywer kom laai my af by die huis. Ons gesels lekker. Hy vertel dat hy die roeping het om mense meer van die Here te vertel. Hy doen dit orals waar hy kom, maar, sê hy: “Ek is bang ek sê verkeerde dinge en meneer weet, ons moet dit so suiwer as moontlik doen. Ons mag nie God se Woord verkeerd draai nie. En ek is eintlik mos nie geleerd nie. Het meneer nie vir my ’n boek om my te help nie?” ’n Gewone ou met ’n passie, maar ook met die besef dat dit ons elkeen se verantwoordelikheid is om die boodskap van God te verstaan voordat ons dit gaan uitdra.
In ons dorp is daar in byna elke beskikbare plek op die Sabbatdag een of ander kerk aan die gang. Dit is seker gerieflik dat daar verskillende plekke vir verskillende aanbiddingstyle is. Wat my egter pla, is dat ons dikwels meer gefokus is op ons eie behoeftes as om op die ongeredde mense te fokus. Maar dit nou eers daar gelaat. Die feit bly staan dat dit elke lidmaat se verantwoordelikheid is om seker te maak dat hulle herder God se Woord suiwer verkondig.
Daarom die raad aan jou en my: 8Wees baie versigtig dat niemand julle in die verkeerde rigting lei nie. Sulke mense gebruik allerhande teorieë en argumente wat slim klink, maar eintlik is dit net ’n leë klomp bedrog. Baie van hierdie idees het die mense sommer self uitgedink. Die een vertel dit vir die volgende een en later glo almal dit. Die res kom van die onsigbare magte af wat in die wêreld aan die werk is. Nie een van dié idees stem ooreen met wat Christus sou sê nie.
Daar was ’n groepie ou garde in Kolosse wat nie die nuwerwetse geloof van die Verlosser geglo het nie. Hulle het vasgehou aan die tradisie en vasgehou aan dit waarin hulle voorouers geglo het, soos bv. die besnydenis. En op ’n manier kan ’n mens dit verstaan. As die Heilige Gees nog nie in die ouens se harte opgedaag het nie, kon hulle net vashou aan die bekende, dit waaraan hulle gewoond was om te glo.
Daarom hou hulle aan die ou geloof vas, met die netto effek dat hulle die bus mis. Ai!
Maar dit is ook nie meer vandag altyd so maklik om te weet wie praat reg en wie praat verkeerd nie. Almal klink na die waarheid, maar soms staan dié sogenaamde waarhede reg teenoor mekaar in die kryt. Dit voel vir my of mense al hoe slimmer raak en die interpretasies net nóg mooier en meer verdedigbaar. Soms wil ek die kombers oor my kop trek en sê: Jesus, ek glo in U en dit is vir my genoeg.
En dalk is dit presies wat ons moet doen. Ons moet vashou aan ons geloof in Jesus, want dit is oorgenoeg. Niks anders kan aan ons die saligheid gee nie. Niks kan ons redding van ons wegneem nie, al sê mense wat. En my reaksie op hierdie redding deur Jesus dring my om dit ook met ander te deel op ’n suiwer, logiese en verstaanbare manier.
Kom ons maak seker dat ons op die regte pad is.
Teks
Om oor na te dink
Glo jy in die suiwer boodskap van Jesus Christus?
Maak dit ’n verskil in jou lewe?
Is jy ingestel op die Heilige Gees se leiding?
Gebed
Vader, ek het een begeerte en dit is om in die waarheid te lewe, U waarheid. Tog is dit nie meer so maklik daar buite om te weet wat is waarheid en wat is so ’n entjie af van die waarheid nie. Ek glo in Jesus en ek weet dit is genoeg. Lei my deur U Gees om elke dag Jesus se waarheid te soek en daarvolgens te leef. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.