God se Woord in vandag se woorde

God se Woord lewe


Op die plaas was dit altyd vir my verstommend dat jy ’n wilde loot van ’n wingerd se onderstok in sulke kort kaal stokkies kan knip, dit in hormoonpoeier kan druk en net so in die grond kan druk. En dan groei dit.

Wat my ook gefassineer het, was dat ons in die winter al die lote tot amper teenaan die stam afgeknip het en teen lente ontplof die wingerde in groen blare. Ek het altyd gesê, as jy gaan stilstaan en mooi luister, kan jy hoor hoe die wingerd groei.

Om die lewe op so ’n manier te sien gebeur, laat ’n mens verwonderd.

Die Woord van God is ook so. Die Woord van God lewe. Dit is nie ’n klomp woorde wat agter mekaar op ’n boekrol geverf is nie. Dis nie dood nie, want dan sou die mense nog voor 100 jaar na Christus die hele boek ontrafel het en sou ons vandag nie eens daarvan geweet het nie.

Die Bybel is werklik ’n besonderse boek. Ja, bloot die feit dat dit die toets van tyd deurstaan het; bloot die feit dat die mens dit nog nie heeltemal kon verklaar het nie; bloot die feit dat daar soveel verskillende sienings is; bloot die feit dat mense verskillende boodskappe ontvang, wys dat dit die woorde van God is. Dit wys dat die Heilige Gees daarby betrokke was en nog steeds is. Dit is ’n bewys dat die Woord van God vir seker nog lewendig is.

Wanneer ons besig is met die Woord van God, besef ons nie elke dag wat ons vashou nie. Die Woord van God is presies dit: die woorde van God. Dit is God wat hier aan die woord is. God gee vir ons, soos die Engelsman sê: “a piece of His mind”. Dit wat God dink, dit wat God wil hê ons moet weet van Hom en van onsself, kom gee Hy vir ons in Sy Woord.

Dit is hoekom dit lewendig is. 12Want die woord van God is lewend en kragtig … (1983-vertaling)

Vir die Woord van God om kragtig te wees, veronderstel dat daar lewe moet wees, want ’n dooie kan nie iets doen nie. Lewe is nodig om iets te doen. En as die Woord van God iets doen, word dit met krag gedoen.

Mense word beweeg. Wanneer die mens in God se Woord doenig is, beweeg dit mense. Mense verander. Mense stap anders by die Woord van God uit as wat hulle daar ingestap het.

Dit is wat ’n lewende Woord doen.

Die Woord van God hou die mens op God se pad. Dit help ’n mens om te verstaan hoe jy jou lewe moet leef, sodat jy binne God se wil bly. Die Woord van God wys nie net die sondaar op sy sondes nie, maar wys hom ook die regte pad om te loop.

Hoe kan ons dan nie anders as om elke dag ’n afspraak te maak om die lewende Woord van God te bestudeer nie? Hier is baie krag vir elkeen van ons. Krag wat ons nodig het om reg deur die lewe te stap.

Teks
Hebreërs 4:12-16

Om oor na te dink
Glo jy dat God se Woord lewend en kragtig is?
Gee die Woord van God vir jou krag vir die dag?
Hoe kan jy maak om meer tyd in God se Woord te spandeer?

Gebed
Môre, God van die Woord. Ek moet bely dat ek nie genoeg tyd in U Woord deurbring nie. Ek vermoed ’n mens kan dit in my lewenspad sien. Jammer hieroor, Here. Ek wil U graag beter leer ken deur U Woord. Help my om dit reg te kry. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek