God se Woord in vandag se woorde

God se Woord sny diep


Die Woord van God is lewendig en kragtig. Wanneer ‘n mens daarby stilstaan, kan ons nie anders as om by ’n ander plek uit te gaan as waar ons ingegaan het nie. Dis nie maar net stil, lewelose, pap woorde nie. Nee, dit het die krag om ’n groot sondaar tot inkeer te bring en die sondaar op sy knieë by die voete van ons Heer te laat stilword. Dis ’n mooi beeld.

Die Woord van God is egter ook so kragtig dat dit jou hart oopvlek met ’n tweekant-swaard. 12Wat God sê, is nie maar net dooie woorde nie. Nee, wat Hy sê, gebeur en daar is geen keer aan nie. Sy woorde is ook nie oppervlakkig nie. Soos ’n skerp mes diep kan sny …

Die Griekse woord vir mes of swaard beteken letterlik ’n tweemond-swaard, want dit vreet alles voor hom op (Barnes). Dit verorber alles, soos ‘n leeu ’n bok se vleis van die been afskeur. So is die Woord van God ’n mes wat tot binne die mens inglip om dit wat daar binne is, oop te vlek.

Die Woord van God kry dit reg om die motiewe van die mens, die ware rede waarom ons dinge doen en nie doen nie, aan die lig te bring. Daar waar ons dinge vir die wêreld wegsteek, sodat niemand daarvan weet nie, het die Bybel nogal ’n geneigdheid om presies daarop te druk.

Die Boodskap-vertaling stel dit baie mooi eenvoudig: 12… Soos ’n skerp mes diep kan sny, so sny dít wat God sê tot diep binne-in jou: ja, tot daar waar jy gedink het jy dinge kan wegsteek. Wat jy dink en hoe jy oor dinge voel, kom alles onder die soeklig van wat God sê. Jy sal nie kan wegkom nie.

En op ’n manier maak dit my so effe bang. Dis ’n swaard wat hier binne my gaan sny en naby my hart is. Die idee wat ek van ’n swaard het, is die fliek op die TV waar die manne so baklei en dan steek die held van die storie die groot skurk reg deur die hart.

Dis egter nie die prentjie wat ons hier moet kry wat die Bybel wil doen nie. Die Bybel wil nie daardie wegsteekstories van ons “uitsny” en op die sypaadjie gooi vir almal om te sien nie. Die Bybel wil nie hê dat ons in die gesig gevat moet word en ’n bespotting van die dorp word oor al die verkeerde dinge in ons lewe nie.

Hierdie is eintlik net ’n funksie wat die Woord van God doen, net vir jou en vir niemand anders nie. Wanneer jy die Woord van God lees en jy lees ’n vers oor iets wat jy êrens in jou diep binneste wegsteek, skakel die Heilige Gees die kollig daar aan.

Vir jou om te sien.

Kyk nè, ons steek die goed mos so diep weg, dat onsself dit nie meer kan sien nie en ons vergeet daarvan. Die Bybel help sny tot in ons diepste en ontbloot dit vir ons – net vir onsself. Sodat ons daarvan ontslae kan raak, kan skoonkom daarvan.

Dit is egter ons keuse wat ons daarmee gaan doen. Ons kan dit uitpak, ons sondes bely en sonder die pakkie die lewe ingaan, of ons kan dit net weer toemaak en bêre.

Wat doen jy met die verkeerde goeters wat jy so wegsteek?

Teks
Hebreërs 4:12-16

Om oor na te dink
Lees jy God se Woord?
Bring dit lig in die duisternis?
Bring dit lig in jou duisternis?

Gebed
Vader, ek wil graag my sondes bely. Ek weet ek maak droog. Ek weet ek doen soms dinge wat nie lekker vir U is om te sien nie. Vergewe my daarvoor. Laat U Woord orals in my lewe skyn en vir my wys waar ek nie binne U wil loop nie. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek