God se Woord in vandag se woorde

God’s high


My vriend in die hospitaal wat platgetrek is deur Covid, laat weet dat dit beter gaan. Hy sê:

“Ek het ’n baie beter aand gehad, ou maat. Ek is nou op positiewe “God’s high”. Baie dankie vir al julle ondersteuning. ’n Mens kry maar slegte gedagtes wat posvat as mens iets het wat ’n slegte uitkoms kan hê. Ek self het regtig vrede wat ook al moet gebeur (daai vrede het ek darem gevind na my kankernuus). My diep hartseer sal my families en ook vriende wees. Hulle is my alles. Groete vir almal, baie lief vir julle.”

As die dood so naby jou verbyloop, raak ’n mens stil en dink jy diep na. Wanneer die vrees jou pak en jy so alleen lê, is daar nie meer veel opsies oor nie. Dan is dit net jy en God.

6Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is die Een wat my help. Ek hoef vir niks bang te wees nie. Buitendien, wat kan ’n mens aan my doen?”

Die Engelse vertaling sê dit so mooi: 6So that we may boldly say, The Lord is my helper …

Kyk maar net na die teks wat in bold of vetgedrukte letters getik word. Dit staan duidelik uit. Dit roep eintlik kliphard vir jou oë om dit te lees. En so kan en moet ons in alle omstandighede uitroep, sommer skree:

“God is my helper! Ja, dalk het ek nie nou die antwoorde nie. Ek weet nie wat môre bring nie. Ek word deur een of ander siekte vasgedruk, maar weet jy wat? God is my helper! Ek glo dit! Ek weet dit! Ek leef dit!”

Om te weet God sal ons help, maak ’n mens rustiger en dit bring hoop. In plaas daarvan dat ons in sak en as vasgekeer is en hopeloos al in die rondte, doelloos ronddwarrel, kry ons moed. Kry ons krag om weer te probeer, want ons doen dit nie alleen nie.

Waarvoor sal ons dan bang wees? God is groter as enige mens wat ons dalk ’n onding wil aandoen. Die mense kan ons niks meer aandoen as wat God toelaat nie en dan help Hy ons nog in ieder geval om deur die uitdaging te kom.

God is groter as enige siekte. Jesus het selfs die dood oorwin, hoe kan ons dan bang wees vir die dood as die Een wat ons Helper is, reeds daardeur is?

Wanneer jy God se hand soos my vriend ervaar het, wanneer jy die dood in die oë gestaar het en jy weet dit is God wat jou gehelp het, is jy op God’s high.

Wanneer jy die uitdaging in jou pad verslaan het en jy so terugkyk en sien hoe God die dinge net laat uitwerk het, kan jy nie anders as om op God’s high te wees nie.

Glo dit! Gaan leef dit! En wys vir ander hoe!

Teks
Hebreërs 13:1-8

Om oor na te dink
Hoe lyk jou uitdagings?
Glo jy dat God jou sal help?
Hoe kan jy dit gaan uitleef?

Gebed
Vader, dit gee my soveel gemoedsrus dat U my helper is. Ek het dit so nodig, want op my eie kan ek dit nie maak nie. My uitdagings is net te groot. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek