God se Woord in vandag se woorde

Groente plant en oes


Een van die kenmerke van kinders van God is dat ons saai. Ons leef ’n lewe van dankbaarheid, want ons is so stomgeslaan deur alles wat God vir ons gedoen het dat ons nie anders kan as om saad te saai met die geloof dat daar ’n groot oes kan wees nie.

Baie van ons doen dit, maar soos dit gebeur, raak ons soms moeg.

Ek het al ’n paar keer in my lewe met groot fanfare ’n groentetuin by die huis begin. Dit was gewoonlik wanneer ek by die winkel uitgestap het sonder enige groente vir die slaai omdat die kwaliteit nie goed genoeg was nie of eenvoudig te duur om te koop. Dan stap ek eerder met ’n paar pakkies saad daar uit.

Sorgvuldig word die grond voorberei en genoeg kompos ingewerk. Opgewonde word die saad gesaai en liggies met grond toegegooi. Sommer ’n paar keer per dag word daar ’n draai gemaak. Wanneer die eerste groen plantjie sy opwagting maak, word dit aan almal wat wil hoor en nie wil hoor nie, verkondig.

Maar ai, kort voor lank raak die opgewondenheid op en word daar nie meer so baie tyd en energie aan die groente kwekery spandeer nie. Daar word vergeet om water te gee en binnekort is dit net die onkruid wat jolig in die komposgronde staan. Die oes nou eintlik ’n misoes. Dan gaan staan ons maar weer in die ry om groente te koop.

So kan dit ook met die geestelike saaiery gaan en daarom waarsku Paulus: 9Kom ons hou aan om goed te doen. Dit is presies wat die Here wil hê. Dan sal ons op die regte tyd ons oes van Hom ontvang. 10Terwyl ons nog tyd oorhet, moet ons elke geleentheid benut om goed te doen aan almal wat op ons pad kom. Paulus moedig die mense aan om nie halfpad langs die pad op te hou nie. Nee, hou aan. Hou aan om energie in te sit en goed te doen. Gryp elke liewe kans aan om iets goeds vir iemand anders te doen. Moenie sommer hier langs die pad ophou en dink dis nou vir eers genoeg nie.

My dogter hou daarvan om in die tuin te woel en toe sy eendag na my toe kom met die idee van ’n groentetuin, het ek dadelik gekeer. Uit ondervinding weet ek mos dat dit nie baie suksesvol is nie. Maar sy het aangehou en dit was nie lank nie of ek staan weer met die vurk in die hand besig om die grond voor te berei.

Sy was ’n voorbeeld vir my en het gedurig in die grond gekrap om seker te maak dat die onkruid nie oorneem nie. Een keer per week het sy kunsmis gegooi. En die gevolg? Ons huishouding is selfvoorsienend van tamaties, blaarslaai, spruituie, seldery, soetrissies en kruie soos pietersielie, tiemie en basil.

Ek verstaan nou dat saai en plant opgevolg moet word met nog energie om te oes. Ek verstaan ook nou beter as Paulus sê dat ons oes op die regte tyd sal kom wanneer ons genoeg energie insit in die doen van goeie dade.

Elke dag kom daar kanse verby waar ons goed kan doen. Ons hoef nie mense in nood te gaan soek nie. Hulle kom sommerso in ons lewens ingestap. Daar by die werk is baie mense in nood. Daar by ons vriende is mense wat ’n oor nodig het of dalk ’n hand om hulle net oor die gevreesde afgrond te help.

Die vraag: Is jy bereid om die geleentheid raak te sien en dit te benut? Vir jou sal dit dalk nie so baie kos nie, maar die impak wat dit op die ander mens se lewe kan hê, kan lewensgewend wees. Hou aan om goed te doen. Spandeer tyd aan jou goeie dade en jy sal sien, die oes sal op sy tyd inkom.

Teks

Galasiërs 6:1-10

Om oor na te dink

Sien jy die nood om jou raak?

Saai jy?

Spandeer jy meer as net die nodige?

Gebed

Here, U is my Leermeester. U leer my om nie moeg te word om goed te doen nie. Dankie dat ek kan weet dat U dit nie van my sal vra as U weet ek het niks om te gee nie. Dankie dat ek weet dat U ons elkeen ryk genoeg maak om in alle omstandighede goed te kan wees vir ander. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek