Grondreëls onder die knie
Ek het as jongman golf gespeel. Dis nie ’n maklike sport nie en as jy die bal wil raak slaan, ek praat nie eers van reguit slaan nie, is daar ’n paar grondreëls wat jy goed onder die knie moet kry.
Die eerste, en seker moeilikste van alles, is om jou kop stil te hou. Die stok het nog nie eers die bal getref nie, dan wil ’n mens mos kyk waarheen die bal trek. Veral as jy so wisselvallig soos ek was, moes jy altyd die vlug van die bal volg, sodat jy weet in watter rigting jy moet stap om jou bal te gaan soek.
Daar is nog ’n heel paar grondreëls, soos die een arm wat nie moet buig nie, jou voete wat netjies uitmekaar moet staan, jou gewig wat van die een voet na die ander moet oorskuif en nog vele meer.
Ek het hard probeer om die grondreëls onder die knie te kry, maar ai, my knieë wou nie saamwerk nie. Ek het toe maar die stokke opgehang en daar was baie meer veiligheid op die bane in die Wes-Kaap …
Net so het elke sport, of selfs werk, ’n stel grondreëls wat ’n mens deur en deur moet verstaan, voordat jy suksesvol daarin kan wees.
So werk dit ook met ons geloof. Daar is ’n paar grondreëls wat jy goed moet verstaan. Jy moet dit onder die knie kry, met ander woorde, dit duidelik verstaan. Dit moet so deel wees van jou lewenstyl dat ander mense dit uit jou gedrag kan lees.
Die skrywer van Hebreërs sê hy het nou al genoeg gepraat oor die volgende grondreëls:
- 1die bekering uit ‘n leefwyse wat tot die dood lei
- oor geloof in God,
- 2die leer van die doop
- die handoplegging,
- die opstanding van die dooies
- en die ewige oordeel … (‘83-vertaling)
Tog moet ons elkeen presies weet wat ons hiervan te sê het, want as ons dit nie onder die knie het nie, gaan ons bene begin wankel as die winde op die horison begin waai.
Hierdie moet die fondasie wees. Dit is hieruit wat ons lewe. Dit bepaal ons rigting. En hoe kan iets ons rigting bepaal as ons nie presies verstaan van bekering, waarin ons glo, hoe die doop en handoplegging werk, die opstanding na ons hier op aarde ons kop vir ewig neergelê het en wat met die ouens gaan gebeur wat nie glo nie?
Dalk moet jy êrens tyd inruim en gaan seker maak of jy presies verstaan hoe jou grondreëls staan. Vat ’n pen en skryf by die ses onderwerpe wat jy van elkeen verstaan. Gaan vergelyk dit met die Woord van God. Verander dit, indien nodig.
En gaan leef dit!
Teks
Hebreërs 6:1-3
Om oor na te dink
Verstaan jy die grondreëls?
Kan jy ander daarmee help?
Of wat moet jy anders doen?
Gebed
Vader, ek dink U is al moeg gesukkel met my wat nie altyd konsentreer nie. Ek moet altyd voor begin, want ek kan nie onthou nie. Daarom vra ek dat U sal help om nou verby hierdie eerste stap te kom en meer aandag te gee, sodat ek ook ander met hul geloof kan help. In Jesus se Naam, amen.