Gumtree aankope sonder sien
Ek is ’n vurige Gumtreeman. Vir dié van julle wat nie weet nie, dis ’n aanlyn platform waar jy goed kan koop en verkoop. Ek het al baie dinge deur Gumtree gekoop en verkoop.
Ons bestaande drone waarmee ons materiaal afneem vir ons YouTube-preke moes vervang word. Ons kry toe ’n stewige donasie van ’n Maatskappy en daar word besluit dat ons dit op ’n tweedehandse drone moet spandeer.
Soos ’n opregte Gumtreeman, sleep ek die rekenaar nader en tik die nodige soekwoorde in en wraggies! Daar is een wat binne ons prysklas val. Die probleem is dat ons omtrent 700 kilometer ver van die drone af is.
Ek vra ’n klomp vrae aan die eienaar. Hy stuur foto’s. Ek ondersoek sy WhatsApp profiel en sien daar is ’n klein babatjie op. Ek kom agter dat dit ’n Nederlandse nommer is en hoor dat hy en sy vrou al 5 jaar daar woon. Hy’t net nou by familie en vriende kom kuier.
Op grond van al hierdie inligting koop ek die drone. Dit kom met ’n geleentheid by ons aan. En?
Ag, hoe opgewonde was ek nie toe ek die omtrent splinternuwe drone sien nie. Dit was presies soos die man gesê het dit is. Ek het basies die drone deur die man se oë gesien en op grond hiervan die risiko geneem en dit gekoop sonder om dit eers met my eie oë te sien.
Só het ons ook nog nie vir Jesus met ons eie oë gesien nie en tog glo ons in Hom. Dis nogal ’n risiko wat ons neem, of hoe?
Net so het die mense aan wie Petrus die brief skryf ook nie self vir Jesus gesien nie. Maar hulle het gehoor van Jesus se prediking. Hulle het gehoor van die wonderwerke wat Hy gedoen het. Hulle het Sy karakter leer ken, sonder dat hulle Hom gesien het. Dit was genoeg vir hulle om in Hom te glo.
8Julle het Jesus wel nie gesien toe Hy op aarde was nie, tog maak dit nie vir julle saak nie. Julle het Hom lief en bly lojaal teenoor Hom. Julle bly op Hom vertrou.
Hoe kan ons vir Jesus lief wees, sonder dat ons Hom met ’n oog gesien het? Hoe kan ons lojaal wees teenoor iemand van wie ons nog net gehoor het? Hoe kan ons op iemand vertrou met wie ons nog nie skouers geskuur het nie?
Ons moet deur dié wat Hom self ervaar het, se oë kyk. Dis soos die vorige eienaar van die drone. Deur toe te laat om deur sy oë na die drone te kyk, het ek die besluit geneem om die drone te koop.
Ons moet deur die skrywers van die Bybel se oë na Jesus kyk. Jy sien, Jesus het só ’n groot impak in die wêreld gemaak, dat Sy storie nooit kon doodloop nie. Mense kon nie ophou praat daarvan nie.
Jesus se impak was só groot dat die mense aan wie Petrus skryf nie anders kon as om Jesus te glo, met alles op Hom te vertrou en selfs lojaal teenoor Hom te wees nie. Dit alles deur na Jesus te kyk deur ander se oë.
As jy rustig kyk oor jou lewe is dit presies wat ons ook doen. Jesus se impak in die wêreld was só groot dat ons in Hom glo omdat ons deur ander se oë na Hom kyk. Dis wat geloof is en dis wat geloof regkry.
Nou moet ons net vra vir wie moet ons ons oë leen, sodat hulle ook kan glo?
Teks
1 Petrus 1:6-9
Om oor na te dink
Het jy al vir Jesus gesien?
Glo en vertrou jy Hom?
Wie moet Jesus deur jou oë sien?
Gebed
Vader, dankie vir die genade dat ek vir Jesus kan sien. Ek glo in Hom en vertrou Hom. Help my om só te lewe dat ander Jesus deur my oë kan sien. Amen.