Haal die paddas uit die pyp
’n Vriend van my en sy seuns het ’n vliegtuig-besigheid in Swakopmund wat mense vir besienswaardige ekskursies neem. Ons slaap ’n paar dae daar oor en word ook vir so ’n uitstappie genooi.
Vol opgewondenheid kom ons by die lughawe aan, maar besef nie dat ons om die bos gelei word nie. In plaas van een van die gewone Cessna-vliegtuigies word ek na ’n Chinese CJ6-opleidingsvliegtuig gelei. Dit lyk soos ’n Harvard-vliegtuig van ouds.
Ons styg op en sommerso met die wegtrekslag druk die vlieënier die vliegtuig in ’n rol in. Ek besef nog steeds nie dat hierdie nie ’n besienswaardige uitstappie is nie. Maar toe die vlieënier die vliegtuig afdruk en kort daarna sy neus skerp optrek, weet ek hier kom iets groot. Hy druk die vliegtuig in ’n loop in – dis nou waar die vliegtuig reg in die rondte vlieg en as jy weer kyk, is die grond bo jou en die blou lug onder! Dit doen hy sommer vir ’n paar keer. My maag weet nie wat om te sê nie en my arms sukkel om bo te bly met die drie g’s wat ons trek.
Dit was ’n ongelooflike gevoel en vir seker nie aan te bevele vir mense met senuweeagtige mae nie. Maar ek het nooit onveilig gevoel nie. Die vlieënier weet wat hy doen en speel met daardie vliegtuig asof dit ’n speelding is!
Later op die grond, vra ek so bietjie meer oor hom uit. Hy was onder andere ’n vegvliegtuigvlieënier vir die Namibiese lugmag en is deesdae ’n instrukteur wat kyk of vlieëniers nog geskik is om te vlieg.
Ek sê dis seker maar vreesaanjaend om met jong vlieëniers die lug in te vlieg. Hy sê nee, dis eintlik die manne met 1000 en 1500 ure se vlieg wat gevaarlik is. Hulle het al soveel dingetjies aangeleer, en baie daarvan verkeerd, maar hulle dink en glo dis die korrekte manier. Dis ’n groot gesukkel om van die gewoontes ontslae te raak.
En so werk dit ook met ons lewe. So deur die jare laat ons toe dat gewoontes in ons lewe kom nesskop wat eintlik teen God se wil is. Dit wat eers verkeerd was, is nou aanvaarbaar. Dinge wat ons in die verlede nie sou gedoen het nie en waarteen ons onsself uitgespreek het, doen ons nou sommerso in die gewone loop van die lewe.
So slinks kom die bose in ons lewens ingesluip en ons kom dit eens nie agter nie.
Daarom is dit belangrik dat ons nou en dan sal gaan stilsit en met ’n vergrootglas ons lewens beloer en deur sif om seker te maak dat daar nie verkeerde maniere en dinge wat ons doen, ingesluip het wat nie binne God se wil is nie.
2Verduidelik vir die ouer mans dat hulle nie mag toelaat dat die sonde hulle aan die slaap sus nie. Dit geld natuurlik vir alle kinders van God. Ons moet seker maak dat daar nie paddas in die pyp is nie. Ons moet seker maak dat die verkeerde dinge wat hulle so ongesiens hier in ons huis tuismaak, hulle ry kry.
Maak ’n tydjie om op ’n klip te gaan sit en mooi in jou binneste te kyk. Vra die Heilige Gees om jou oë oop te maak. Vra Hom om op die nommer te druk van die goedjies wat pla. Vra Hom om te help om die paddas uit die pyp te haal.
Teks
Tit 2:1-5
Om oor na te dink
Hoe kan jy die dinge in jou lewe raaksien wat sommerso kom blyplek maak het?
Hoe kan jy van hulle ontslae raak?
Wat is die Heilige Gees se rol?
Gebed
Vader, ek weet daar is dinge wat so maklik binne my kom bly het. Dinge waarvan U nie hou nie. Help my om hulle raak te sien en een vir een uit te haal. Sonder U Gees wat my help, sal ek dit nie op my eie regkry nie. Amen.