Hak en tak
Ek kan aan hordes voorbeelde dink waar kinders van die Here woes veld vir die Evangelie gewen het, maar dan iewers langs die pad in ’n groot gat getrap het. Al die goeie werk is dan met ’n dik koki doodgetrek.
Dit lyk nou of dieselfde tussen Euodia en Sintige gebeur. Die geskil tussen hulle wil nou ’n streep deur hulle goeie werk trek. Daarom beroep Paulus hom op sy vriende om te help: 3 En ek vra by name vir jou, getroue vriend wat so lekker met my saamwerk, om hierdie twee vroue te help. Hulle het baie saam met my gedoen en verduur om vir mense van die goeie boodskap te vertel. Hulle kan in een asem genoem word met Klemens en van die ander wat saam met my gewerk het. Hulle name staan opgeteken in die boek waarin almal se name opgeskryf is wat vir ewig saam met God sal lewe.
So ’n mooi getuienis van vrouens wat hard op die lande vir God gewerk het, maar nou staan daar ’n verskil tussen hulle wat alles omvêr kan gooi. Ons weet natuurlik wie staan hier agter. Ons weet dat die duiwel alles in sy vermoë sal doen om mense uitmekaar te kry. Een klein geskilletjie. Heel waarskynlik wil nie een toegee nie. Nou hang daar ’n kouete tussen hulle. Die kans is goed dat alles gaan vries as hulle nie dadelik ’n oplossing kry nie. Dis ernstig. Paulus sien die potensiële gevolge raak en gryp in.
Ongelukkig is niemand gevrywaar hiervan nie. Orals is alle verhoudings onder vuur en ons moet dit besef, sodat ons daarvoor kan regmaak. Die kleinste geskil het baie verhoudings al te pletter laat val. Euodia en Sintige wou heel waarskynlik nie een ingee nie met die gevolg dat nie net hulle nie, maar die Evangelie ook skade kan lei.
Soms is dit beter om na die groter prentjie te kyk. Is dit nou regtig die moeite werd om nie in te gee nie? Hoe groot is die prys om te betaal? Wat is die invloed daarvan op God se wêreld en werk? Soms moet ons groot genoeg wees om eerder in te gee, sodat die groter prentjie in plek bly.
Maar meer nog, soms moet ons ander gaan help, vra Paulus. Soms sit ons hier op die kantlyn en sien ’n ander prentjie as wat die spelers op die veld sien. Hulle is so hard besig om die game te speel dat hulle nie lekker perspektief het nie. Dis sulke tyd dat die coach via die waterdraer ’n boodskap by die spelers moet uitkry sodat hulle kan besef dat hulle nou goed droogmaak en terug moet keer na die wedstrydplan.
Paulus vra so mooi, dis eintlik ’n opdrag vir ons elkeen: 3 En ek vra by name vir jou, getroue vriend wat so lekker met my saamwerk, om hierdie twee vroue te help. Ons moenie arms gevou en met toe monde sit as ons sien dat van ons vriende of medegelowiges van die pad af is nie. Dalk sien hulle nie die impak nie. Dalk is hulle verblind deur die oomblik en het hulle jou nodig om net weer perspektief te gee.
Ek is verbaas om te luister hoe mense se gesprekke oor negatiewe goeters gaan. Die een het nou weer dit gedoen en die ander dat. Nee, kom ons los eerder die saai van negatiewe nuus en konsentreer op die goeie. Kom ons soek plekke waar ons mekaar kan help.
Om oor na te dink
Waar haak dit in jou verhoudings?
Wie skuur?
Wat dink jy staan jou te doen?
Gebed
Vader, help ons om in liefde met mekaar saam te werk en te woon. Help ons om nie konflik aan te moedig en hardkoppig vas te hou aan ons eie idees en eie wil nie. Help ons om die ander een eerste te stel sodat die liefde kan wen. Amen.