Hand in God se hand
Baie keer het ’n mens nog ’n stel hande nodig om ’n taak klaar te maak.
Met die restourasie van my 4×4-wa, kon ek die meeste van die werk op my eie doen. Maar soms het ek eenvoudig net te min hande gehad. Wanneer ek ’n bout en moer wat in die middel van die bak is, moes vasdraai, kon ek wel onder inklim om die moer te draai, maar ek kon nie die bout aan die bokant vashou om te keer dat dit in die rondte draai nie. Dan moes ek eers een van die kinders van die rusbank af sleep om onder protes te kom help.
Ek het darem die werk klaargekry, maar die gestoei om ’n goeie stel helpende hande te kry, was nie altyd so maklik nie.
Saterdae het daar wel ’n man my kom help en watter plesier was dit nie om saam met hom te werk nie! Hy het presies geweet watter moersleutel word waar gebruik. Hy het self gemeet en gepas en die parte saam met my inmekaar gesit. Daar was nie tyd vir hum en ha nie. Ons het gewerk. Ons het saamgewerk. As die een nog ’n hand nodig het, is die ander een by, sonder vrae.
Dit was lekker om so in ’n span te werk.
God en Jesus maak ook so ’n wonderlike span saam. Kyk hierdie mooi beeld wat Die Boodskap-vertaling gebruik: 7Toe Jesus destyds op aarde was, het Hy God baie mooi gevra om Hom uit die dood te red. Hy het baie ernstig met trane in sy oë daarvoor gebid, omdat Hy geweet het dat God dit kan doen. En God het dit gedoen omdat Jesus Homself met soveel oortuiging in God se hand geplaas en Hom gehoorsaam het.
Toe die vakature vir die Verlosser vir die wêreld vakant was, het Jesus oombliklik Sy hand opgesteek en gesê Hy is bereid om die opdrag uit te voer. Hy het God se hand versterk. Saam het hulle ’n gedugte span gemaak en soveel vermag. Wanneer Jesus in God se hand pas, is daar nie keer nie. Selfs die dood kon hulle nie stop nie.
Jesus was heeltemal gehoorsaam en het presies gedoen soos wat God van Hom verwag het. Binne hierdie “hande vashou”-vennootskap het albei partye gebaat. Toe Jesus met ’n baie ernstige versoek kom dat God Hom tog uit die dood sou red, was daar nie eens ’n opsie om dit nie te doen nie. God het Jesus gehelp en deur hierdie moeilike pad elke oomblik bygestaan.
So moet ons ons hande ook in God se hand plaas. Ja, ons moet ons hande ook opsteek vir die talle vakante vakatures hier op die aarde. Hier is soveel werk wat vir God gedoen moet word. Met ons hande in God se hand, ontvang ons krag en kan ons meer doen as net op ons eie.
Hierdie hande in God se hand is nie opsioneel vir ons wat Sy kinders is nie. Dit is verpligtend vir elkeen van ons. Maar dis nie erg nie. Dis eintlik lekker om so uit dankbaarheid iets terug te gee vir wat ons alles ontvang.
Natuurlik hou die ontvang nie op nie, want net soos God vir Jesus gehelp het, sal Hy vir ons wat ons hande in Syne druk, ook hulp en verlossing bring, juis omdat ons gehoorsaam is aan Sy opdrag.
Onthou dit altyd.
Teks
Hebreërs 5:7-10
Om oor na te dink
Is jou hand in God se hand
Wat moet jy doen?
Bring God Sy kant?
Gebed
Vader, ek kan nie anders as om uit dankbaarheid my hand in U hand in te druk nie. Help my Here, om al hoe meer ’n verskil te maak waar ek gaan. Dankie dat ek weet U is saam met my daar en hoor my gebede een vir een. In Jesus se Naam, amen.