Heilig en perfek in God se oë
Ek sien myself nie as heilig nie. Daarvoor het ek al te veel nonsens in my lewe aangevang. Ek sien myself nog minder as perfek, want iemand wat perfek is, maak nie soos ek maak nie. Ek is net soos Paulus. Ek wil so graag die goeie doen, maar ek trip en val gedurig oor my eie begeertes en voor ek my kom kry, lê ek in die modder. So nee, ek weet vir seker dat ek net te veel tekort skiet om eers amper in die run te wees om die beker vir perfek te verdien.
En tog is dit hoe God ons sien. God sien ons elkeen as ’n perfekte mens. God sien ons as heilige mense. Wanneer God na ons kyk, word al die verkeerde dinge wat ons doen, weg weerkaats en God sien net die perfekte, rein, skoon, sondelose en heilige mens raak. Dit is amper te dik vir ’n daalder. Ek kan amper nie glo hoe God dit regkry om my sonde mis te kyk nie. Maar dit is presies wat Jesus reggekry het.
Dit werk amper soos ’n sonbril. ’n Sonbril word ontwerp om skadelike strale uit te hou en net die regte hoeveelheid lig deur te laat. Vir die tydperk wat jy ’n goeie sonbril dra, bestaan die strale so te sê glad nie en kan dit geen negatiewe uitwerking op jou oë hê nie.
Op ’n manier is dit presies wat Jesus se dood aan die kruis veroorsaak het. Jesus het as’t ware ’n sonde-bril op God se oë kom sit. Wanneer Hy na ons kyk, word al die verkeerde goeters wat ons doen, weg weerkaats en God sien slegs die mooi raak. God sien net die heilige, perfekte ek raak. Sjoe!
Hierop kan ek egter nie roem nie, want dit is net Christus se sterf aan die kruis wat dit moontlik gemaak het. 30God en God alleen het dit vir julle moontlik gemaak om Christus Jesus te leer ken. Jesus is die Een deur wie ons kan sien watter slim planne God gemaak het: deur Hom word ons saak met God reggemaak, word ons mense wat geheel en al net vir God leef. Ja, Hy is die Een deur wie God ons sy vriende maak.
In die Afrikaans 1983-vertaling staan daar: 30… Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. Deur Jesus se koms na die aarde het ons wys geword en het ons God leer ken. Vir die eerste keer kon die mense God se hart sien, kon die mens sien hoe ontsettend lief God die mens het. Ons het die waarheid ontdek. Deur Jesus is ons nie net verlos nie, maar kon ons die verlossingsboodskap verstaan.
Maar meer nog, ons is geregtig. Geregtigheid kan as volg gedefinieer word: ’n staat van morele perfeksie of volmaaktheid. Jesus bewerk dat die prentjie wat God van ons het, ’n perfekte prentjie is. Dis waar Jesus die sonbril voor God se oë plaas en Hy net die sondelose mens raaksien.
Daarom kan ons nou vriende van God genoem word. Jy mag praat van jou beste vriend, God. Dit is wat Jesus reggekry het. Dit is die resultaat van sy sterfte aan die kruis. Daarom wil ek uitbars van vreugde en lofprysing. Dan kan ek nie anders as om die boodskap te gaan uitleef nie. En dan wil ek graag ’n lewe gaan lei waar ek nader aan die prentjie wat God van my het, lewe. Dan probeer ek my bes om meer heilig te lewe. Ek probeer ook bewustelik om minder sonde te doen om so nader aan God se perfekte beeld van my te kom. Uit dankbaarheid vir wat Jesus vir my gedoen het. Al die eer kom Hom toe.
Om oor na te dink
Glo jy dat jy heilig is?
Glo jy dat God ’n perfekte prentjie van jou het?
Hoe kan jy nou anders gaan leef om in die prentjie te pas?
Gebed
Vader, hoe groot is U. U maak sulke wonderlike planne om dit vir my maklik te maak om na U uit te reik. Help my Vader, om in U prentjie te pas en meer en meer so te lewe. Amen