God se Woord in vandag se woorde

Help ander om in te koop


Die boek, Filemon, is ’n persoonlike brief wat Paulus vir Filemon uit die tronk stuur. Daar is net een doel met die brief en dit is dat Paulus vir Filemon vra om sy slaaf wat weggehardloop het, weer terug te neem. Maar wag, laat ek nie die storie vooruitloop nie. Paulus is nog besig met die aanloop hiernatoe.

Paulus is baie ouer as Filemon. Paulus is baie wyser as Filemon. Hier van die kantlyn af, sien hy ’n heel ander prentjie van die spel tussen eienaar en slaaf. Paulus verstaan Filemon se kant, wat bitter kwaad is vir Onesimus wat gedros het. Maar hy sien ook die kant van Onesimus, wat tot inkeer gekom het. Paulus wil as skeidsregter die spel aanhelp, sodat albei wenners is.

Paulus as skeidsregter het twee keuses en albei is eintlik reg. Die een is dat hy as ouer man die reg het om vir Filemon te dwing om Onesimus terug te vat, maar hy kies nie die roete nie. Hy kies eerder die roete van sensitiwiteit:

8Filemon, ons albei glo in Christus. Daarom sou ek jou kon beveel om te doen wat ek jou nou wil vra. 9Tog verkies ek om eerder by jou te pleit om na my versoek te luister omdat ons albei die Here liefhet. Ek, Paulus, doen dit as ’n ouer persoon wat jou respek waardig is, en ook as iemand wat boonop in die tronk is ter wille van Christus Jesus.

Paulus dwing homself nie op Filemon af nie. Hy sê nie hy is die baas, doen wat ek sê jy moet doen en basta die res nie. Nee, hy neem eintlik sy hand om hom te help om die regte besluit te neem.

Hy vra hom mooi, nee eintlik pleit hy by hom, op gronde dat hulle albei die Here lief het. En hy gooi nog verswarende omstandighede in: hy wys hom op die feit dat hy ouer en wyser is en eintlik verdien hy al die pad respek. Laastens gooi hy eintlik nog ’n stukkie emosie by en vertel dat hy mos in die tronk sit namens almal wat die Woord van God uitdra.

Wat ons egter ook moet verstaan, is dat die brief nie sommer uit die bloute daar by Filemon aankom nie. Daar bestaan ’n goeie verhouding tussen hulle en dit is juis hierdie verhouding as basis wat vir Paulus die reg gee om so ’n versoek aan Filemon te mag stuur.

Ons kan baie leer hier. Ons moet klem lê op verhoudings. Ek kan nie maar net hier uit die bloute kom en my seun, vrou, vriende of wie ook al, probeer raad gee as daar nie ’n goeie verhouding is nie. Dit geld natuurlik vir werknemers ook. Dit is slegs binne ’n veilige verhouding wat ek die “reg” verleen word om raad te bedien.

Maar dan moet ons dit op so ‘n manier doen, dat die ander nie voel hulle word bedreig en het geen sê in die opdrag nie. Ons moet wysheid gebruik om ander te help om in te koop by die neem van besluite. So neem die persoon eienaarskap van die opdrag en sal die resultaat vir almal meer betekenis hê.

So stukkie praktiese raad van Oom Paulus daar uit die tronk.

Teks
Filemon 1:8-9

Om oor na te dink
Wie moet jy help?
Hoe moet jy help?
s jou verhouding met ander mense so dat hulle na jou sal wil luister?

Gebed
Here, ek besef dat ek baie wysheid nodig het wanneer ek raad aan ander uitdeel. Help my asseblief om dit so mooi soos Paulus te kan doen. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek