Hoe lyk jou lemoene? – Romeine 11:11-24
Kliek hier om die teks te lees: Romeine 11:11-24
In die vorige teksverse van Romeine 11 het ons ’n paar eienskappe van God geleer wat baie mooi was: God kies ons eerste van sy kant af, God loop oor van genade en God red. Nou kom ons egter ook in kontak met die ander kant van God: 22God is streng.
God eis op die ou end ook sy stuk van die botter. Hierdie is ’n groot waarskuwing: Moenie te lank aanhou om nie veel te doen nie. Pasop om net lou te wees. Pasop om nie van God se genade aan te pass nie. Pasop as daar nie blare en vrugte aan jou takke hang nie. Dit word uitgekap!
Dit klink nie lekker nie.
Paulus breek die boodskap op ’n eenvoudige manier vir sy lesers oop deur die gebruik van die beeld van ’n olyfboom. Wanneer die takke van ’n olyfboom doodgaan en nie meer vrug dra nie, kap die boer dit uit om plek te maak vir nuwe takke wat graag wil vrugte dra. Dit is so eenvoudig soos dit. Dit is of reg of weg. 22… Hy tree streng op teenoor dooie lote, teenoor mense wat nie na Hom luister nie.
In die winter loop die mense wat die wingerde snoei met groot skêre deur die wingerde. Elke stok word deursoek, en wanneer hulle dan ’n dooie arm of tak kry, sny hulle met alle mag die tak so na as moontlik aan die stam af. Die tak vat net onnodig plek, lig en dalk nog sap ook. Dit het geen doel meer nie en dalk, as die tak uitgesny word, word die ogies wat op die stam sit gestimuleer en groei daar ’n nuwe loot uit. 23In God se olyfboom is daar nie plek vir dooie lote wat nie doen wat Hy sê nie.
Dit klink nie lekker nie.
Om die beeld nog verder te gebruik. Die hoofrede hoekom ’n tak van ’n wingerdstok vrek, is omdat daar iets fout gaan met die kos vervoer kanaal. Die sap kom nie meer vanaf die wortels tot by die tak nie. As jy dus nie ordentlik vasgeanker is in die stam van Jesus Christus nie, as jy nie genoeg tyd saam met Hom deurbring nie, kom daar obstruksies in die kanale wat jou kos moet vervoer. As jy nie meer leiding en kos van Jesus kry nie, gaan jy dood. Dan word jy ’n dooie arm en staan jy die kans om volgende winter deur die werkers uitgekap te word.
Ek voel ook soms sulke obstruksies. Ek voel dit veral wanneer verhoudings om my sukkel of wanneer my selfbeeld soek is. As alles om my vou en ek in ’n hoekie wil gaan sit, kan ek maar gaan kyk na die hoeveelheid tyd wat ek met God deurbring. Dit is hopeloos te min en my energie en gemoed is teen die planke, want ek het te veel op my eie aangeploeter en nie tyd saam met Hom spandeer nie.
Gelukkig is daar ook goeie nuus, want 22… Hy (God) is ook vol liefde. God sit op die rand van sy stoel en soek orals na mense vir wie Hy nog ’n kans kan gee. Dooie lote wat afgekap is en weer aan die groei kom sal Hy met graagte weer aan die boom ent. 24… God het die krag om dit te doen. Hy alleen kan dooie lote weer laat leef.
Wow! Hierdie streng God loop ook oor van die liefde. Om elke hoek en draai soek God ’n plekkie om sy genade uit te stort. Selfs al was jy dood of op ’n vorige rondte al uitgekap. God wag vir jou sodat Hy jou weer kan terug ent in sy boom van die lewe.
Mag ons wat weggedwaal het weer terughardloop in sy arms en mag ons ander wat nog die heeltyd in God se arms is, dit vir ander gaan vertel, sodat God nog ’n dooie arm weer van vooraf kan laat groei.
Om oor na te dink
Hoe ervaar jy God?
Wat het jy nou van God geleer?
Wat maak jy met sy genade?