God se Woord in vandag se woorde

Hoekies van liefde


Efesiërs  5:21-33

Paulus rond sy beknopte huweliksverrykingskursus met ’n eenvoudige voorstel af: 33Dit geld ook van julle: elke man moet sy vrou net so liefhê as wat hy homself het en natuurlik andersom ook: Elke vrou moet haar man net so liefhê as wat sy haarself het. Die netto effek? Daar kom net meer en meer liefde na vore om uit te leef.

Johan vertel my van ’n vriend van my, August Basson, wat by hulle in Grabouw preek. Hy wil vir die kinders iets van liefde leer. Hy neem ’n A-4 papier en vra die kinders hoeveel hoeke is daar. Hulle skree soos een dat daar 4 hoeke is.

Hy sê elke hoek verteenwoordig liefde. Wanneer ’n mens liefde teenoor ander mense betoon, gee jy eintlik ’n stukkie van jouself en word daar een van die hoekies afgeknip. Hy neem toe ’n skêr om die stukkie liefde wat die mens gegee het van die A-4 papier af te knip.

Hy vra die kinders hoeveel hoekies is daar nou. Aha, nou is daar 5 – een meer hoekie om liefde te gee! In plaas daarvan dat daar eintlik een hoekie minder moet wees, aangesien jy een weggegee het, kom daar een by!

En op ’n manier werk dit so as ons liefde uitdeel, daar kom net nog en nog en nog om uit te deel. Ware liefde raak nie op nie.

Ek weet dit is nie altyd maklik nie. Ek weet dat ander baie keer met die liefde wat ons vir hulle gee, mors, maar liefde wag nie vir die regte oomblik nie. Liefde vra nie vrae soos of die ander dit verdien nie. Nee, liefde gee sommer vanself, met die netto effek dat daar nog ’n hoekie kom om weer en meer te gee.

Miskien moet ons die een gaan uittoets. Kom ons maak elkeen ons eie eksperiment en gaan gee liefde en sien hoe die hoekie afgeknip word om net nog ’n hoekie by te kry. Kom ons kyk of ons dan meer liefde kan uitdeel. Ek vermoed dat ons liefde nooit sal opraak nie. Dis hoe God ons aanmekaargesit het. Hulle sê: You cannot outgive God.

Om oor na te dink

Sukkel jy om liefde uit te deel?

Is jy bereid om te oefen?

Waar gaan jy vandag begin?

Gebed

Jesus, U het ons geleer van liefde gee en gee en gee. Help ons om dit ook te doen en orals waar ons kom U liefde wat nie opraak nie uit te leef. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek