God se Woord in vandag se woorde

Hoekom gebeur slegte goed met goeie mense?


Jakobus 1:12-18

Na aanleiding van Woensdag se baie kommentaar oor die swaar waardeur ons gaan en ook as gevolg van die swaar van geliefdes die afgelope week rondom my, stuur ek hierdie stuk uit wat ek ’n jaar of drie terug geskryf het.

Ons huishulp bel gistermiddag histeries: Haar huis het afgebrand. Inderhaas kom ons daar aan. Dit brand nog. Daar is niks wat ons kan doen nie. Alles het uitgebrand. Daar is letterlik niks oor nie. Ons gee vir haar en haar 1-jarige seuntjie ’n bietjie sap, maar sy bewe so, sy kan dit nie drink nie.

Ek wonder by myself: Here, hoekom gebeur dit?

Verlede week ry ons goeie vriende se seun met sy poegie gym toe. Dis laatmiddag en waar hy onder die bome se skadu ry, sien ’n vrou hom nie raak nie en sy ry reg voor hom in. Haar kar word afgeskryf deur die impak van sy liggaam en die poegie. Sy een nekwerwel glip met die slag uit en boks die rugmurg. Hy kan nou nog nie sy bene beweeg nie.

En ek wonder hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense?

Jakobus 1 gee baie duidelik die antwoord, maar dit is nie maklik nie: 12Die Here gebruik slegte of moeilike dinge in ons lewe om te kyk of ons lojaal aan Hom gaan bly. Ware geluk is om dié toets met vlieënde vaandels te slaag. God noem sulke mense wenners in die lewe. Hy sal hulle deel van sy familie maak. Hulle sal vir altyd by God kan bly omdat hulle deur hulle optrede gewys het hoe lief hulle Hom het.

Dit is ’n eenvoudige antwoord. God is nie die oorsaak van die slegte dinge in ons lewe nie. God beplan net die goeie vir ons. God gebruik wel die slegte dinge wat oor ons pad kom om ons geloof te toets. Daarom is dit so belangrik om nie in die tye wat dit sleg gaan te probeer om die oorsaak by God te soek nie. In tye van swaar moet ons weet dat God dit wel gebruik om te kyk of ons geloof gaan hou. Op ’n manier gebruik God die swaar wat oor ons pad gekom het om soos goud, ons geloof te suiwer.

Om al die vuilheid uit goud te kry, moet dit verskriklik warm gemaak word. Duisende grade Celsius. Net so, wanneer jou wêreldsgoed warm gemaak word, word jou geloof ook gesuiwer van al die verkeerde dinge wat God nie daar wil hê nie. Maar onthou net, dit is nie God wat dit oor jou bring nie. 13Een fout moet ons egter nie maak nie. Ek kan nie sê dat God die Een is wat al die slegte oor my bring net om my te toets nie.

As ons nie ’n oorsaak vir die swaar in die lewe kry nie, gaan sit ons gou in ’n hoekie en gee God die skuld. God is mos almagtig en dit is seker nou weer Hy wat al die swaar in my pad kom neerplons het. En gou raak ons dan kwaad en wil ons wegbeur van God. Eintlik is dit half stupid, want ons loop dan juis weg van die Een wat eerstens niks met die oorsaak van die probleem te doen het nie en tweedens eintlik die enigste Een is wat my deur die swaar kan help. Op so ’n manier rek ek eintlik die swaar uit en maak ek dit net moeiliker om deur alles te kom. Hoe gouer ek besef dat dit nie God is wat die oorsaak is nie en hoe gouer ek vrede maak dat ek in ’n toets fase is, hoe gouer kan ek daardeur worstel.

Ek staan by my vriend, sy oë is moeg. Hy en sy vrou is al om die beurt by hulle seun se bed in die hospitaal. Ek leer by hom. Hy sê dat dit sulke tye is wat jou geloof getoets word. Hier waar jy bid en smeek. Dis hier waar jou geloof skoongemaak word. Waar dit sterker word en jy rêrig glo en weet alles, maar alles is in God se hande.

Karre breek, mense word siek, vriendskappe duik in die hek, huise brand af, ongelukke gebeur en… en… en… Ja, slegte, erg slegte dinge gebeur met goeie mense. Onthou tog net dat dit nie God is nie. Nee, God gebruik alle omstandighede waarin ek my bevind ter wille van myself. Ja, God is juis hier waar ek swaarkry, waar ek ly en nie meer kan nie.

Miskien moet ons ophou om om elke hoek en draai ons speelgoed uit die kot te gooi en eerder by God gaan rus, want vir seker sal ons sterker daar opstaan. Dan sal ons as wenners uittree en ware geluk ervaar.

Om oor na te dink

Kry jy swaar?

Vir wie gee jy die skuld?

Waarheen skree jy?

Hoe lyk jou geloof?

Gebed

Ek moet erken God, dat ek soms vir U al die skuld gee. Ek moet erken dat ek soms vir U kwaad word omdat al die goed so met my gebeur. Ek is jammer, vergewe my. Help my asseblief om deur die toetse te kom. Ek wil graag leer en beter aan die ander kant uitkom. Stuur asseblief U Gees om my op te help. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek