God se Woord in vandag se woorde

Hoeveel is genoeg? Nog!


Een van die grootste uitdagings vir baie ouers is om vir hulle kinders te leer om dankbaar te wees vir alles wat hulle het. Baie kinders wil net meer en meer hê en sê nie eens dankie vir wat hulle alles kry nie. Hulle dink dit moet maar so wees. Alle voorregte raak sommer regte en as hulle nie kry wat hulle vra nie is die gort gaar.

Ek wonder waar kom die kinders daaraan? Seker maar by die ouers.

Baie keer is ons grotes ook nie tevrede met wat ons het nie. Dis groter dit en groter daai. Sjoe, dit sal darem lekker wees om in daardie adres te bly of met daai blink wa te ry. Ons self wil graag mooier en beter. Net nog so ’n stukkie meer. Hier by ons spot die mense al en vra wat is die antwoord op die vraag: Wanneer is genoeg genoeg? En die antwoord: Nóg!

Toe ek die woord “nog!” hierbo tik, tik ek verkeerd en ek tik per ongeluk ’n “a” in plaas van ’n “o”. Eintlik is dit presies wat gebeur as ons net nog en nog wil hê. Dit raak nag! Dit raak stikdonker om ons en al wat ons sien, is die nog wat ons glo ware geluk gaan bring. Daarom die ernstige waarskuwing: 4Gaan kyk ’n slag goed na julle eie lewe. Wees tevrede met die goeie dinge wat God in julle lewe tot stand gebring het sonder om julle gedurig met ander gelowiges te vergelyk. 5Op die ou end sal julle slegs oor julle eie lewe aan God moet rekenskap gee.

Êrens eendag sal jy moet gaan verduidelik hoekom jy vasgehaak het by nóg.

Ons huishulp se huis het afgebrand. Sy het niks oor nie. Die munisipaliteit praat lang stories, maar niks gebeur nie. Sy moet met haar niks by ’n oorvol familielid se huis indruk vir slaapplek vir haar en haar twee kinders. Die volgende dag vra my vrou om verskoning vir ons huishulp omdat sy nou in ons huis moet werk waar só baie is en dit terwyl sy self op die oomblik niks het nie. Haar antwoord: Mevrou, ek het nie eens daaraan gedink nie.

Die probleem is dat ons ons dankbaarheid gaan soek by die mense wat bokant ons leef. Maar daar gaan ons dit nie kry nie, want dankbaarheid loop nie saam met nóg nie. Nee, eers as ons kyk na die mense wat minder as ons het en wanneer ons besef wat ons eintlik alles het, dan word ons omgeslaan deur dankbaarheid. Dan raak ons min, baie. Dan besef ons hoeveel ons eintlik het. En onthou: Hierdie gaan nie net oor goeters nie. Dink maar aan jou gesondheid, jou bene en arms en parte wat nog werk.

Verstuit nou ’n vinger! Ewe skielik besef jy hoe bevoorreg jy is om vingers te hê. Kry nou ’n knoppie in jou verhemelte wat jou nie ophou pla nie. Wanneer dit weg is, is ons so dankbaar dat alles weer normaal is. Tog hou die dankbaarheid nie so lank nie en voor ek my kom kry, vergelyk ek my weer met ander. As jy ’n bord kos het om te eet, is jy beter af as 805 miljoen mense in die wêreld!

Ware geluk, ware vrede, ware dankbaarheid lê daar waar ons die mense wat minder as ons het, in die oog hou. Daar is niks verkeerd om dinge te hê nie. As jy daarvoor gewerk het of so gelukkig is om te kon ontvang, moet dit jou juis in beweging sit om ander te help om net so bevoorreg soos jy te wees. Kyk na die wat minder as jy het. Wanneer jy sien wat hulle nié het nie, sal jy dankbaar wees vir dit wat jy het en hopelik uit dankbaarheid van joune begin uitdeel.

En dan, so amper soos ’n voetnota, glip ’n versoek in vir die Godsmanne: 6Julle moenie daardie mense afskeep wat julle leer waaroor dit in God se Woord gaan nie. Nee, wees goed vir hulle en sorg vir hulle.

Onthou: Hulle is ook mense. Hulle het ook behoeftes. God gebruik jou om ook na hulle uit te reik. Wees jy ’n seën vir die wat ander seën!

Teks

Galasiërs 6:1-3

Om oor na te dink

Sukkel jy met dankbaarheid?

Kyk jy op of kyk jy af?

Vir wie kan jy tot seën wees?

Gebed

Here, ek val in my skuld. Ek weet dat ek soms ongelukkig raak as die ander meer het as ek. Ek weet ek moet eerder kyk na die mense wat nie so baie soos ek het nie. Help my om my lewensoë op die regte plek te hou. Help my om met dankbaarheid raak te sien wat ek het en help my om daarvan aan te stuur na die wat nie so bevoorreg soos ek is nie. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek