God se Woord in vandag se woorde

Hol weg van die lus


Soos ons vir Paulus ken, gee hy nie net ’n klomp opdragte nie, hy gee ons ook leiding oor hoe om die opdragte uit te voer. Hy sê mos ons moet die bak skoonkry, sodat God ons kan gebruik. Hier is sy eerste voorstel: 22Maak dat jy wegkom van al die verkeerde dinge wat vir ’n jongmens so lekker lyk en wat hy dan so graag wil doen.

Hoekom is die dinge aan die anderkant van die draad tog so aanloklik? Hoekom lek ons ons lippe af wanneer ons oor die muur loer? Ek wens ek het die antwoord gehad. Dalk is dit die netto effek van die sonde, maar waaroor ek wel seker is, is dat min daardie versoeking vryspring.

Baie van ons het hierdie skewe trek in ons mondering. Ons moenie dit probeer wegsteek en heilig probeer voorkom nie. Ons almal loer so nou en dan oor die draad. Ja, sommige spring soms oor en doen wat hulle graag wil doen, net om die volgende oggend wakker te word met ’n yslike skuldgevoel.

Ek vermoed dis die bose wat so al te gereeld hierdie bal in ons pad kom rol. Hy weet waar die swak plekke in ons mondering is. Hy weet waar ons skeef trek. Die King James Version sê dit so: Flee also youthful lusts.

Dit oorrompel jou. Dit maak jou handbriek los. Dit haal die gesonde oordeel uit jou kop. Dis asof iemand anders die stuur oorvat en jy net staar. En as jy jou weer kom kry, staan jy aan die anderkant van die draad. Morsig en vuil met geen idee hoe jy daar uitgekom het nie. Al wat voor jou lê, is die gevolge.

Ek weet jy wil nie eintlik hiervan hoor nie, nog minder hieroor praat. Maar dit help nie ons steek dit onder die kopkussing weg nie. Dit help nie ons maak of dit nie bestaan nie. My vrou sê altyd: Problems buried alive, stay alive.

Dis ’n feit soos ’n koei: Ons almal word daagliks gekonfronteer met die lus na verkeerde dinge. Hierteen moet ons ons staal. Nee, nog meer, sê die teks: Ons moet weghol hiervan. Los dit onmiddellik en kies pad na die regte kant toe. En nee, moenie eers wag om net te kyk wat gebeur nie. Dit trek jou in en as jy weer sien, lê jy aan die anderkant uitgespoeg.

Net een prentjie wat darem nie so kaal is nie. Net ’n paar rand leen, want ek sal dit mos weer teruggee. Net nog …

Dit laat my dink aan Jak de Priester se liedjie “Fyn lyn:”

Nog net een drankie, nog net een wit leuentjie, nog bietjie dieper in ’n vreemde vrou se oë, nog bietjie meer geld, nog bietjie vinniger, nog bietjie later, nog net een oproep, nog een paar skoene, nog net R50, daai masjien praat met my, nog bietjie meer geld …

As ek nou weer kan kies, het ek vroeër geloop …

Dis nie lekker nie, maar ons moet. Ons moet weghol van die lus.

Mag God met Sy Gees ons help om dit hierdie keer reg te kry en die volgende keer en die volgende keer …

Teks
2 Tim 2:20-26

Om oor na te dink
Waar lê en loer die versoeking vir jou?
Hoe nou gemaak?
Luister na Paulus se raad!

Gebed
Vader, hier is ek. Help my om gehoorsaam te wees aan die raad wat Paulus vandag vir my gee. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek