Honde wat mekaar verskeur of liefde wat vloei?
Soms kompliseer ons geloof en Christenskap. Ons skryf boeke vol om duidelikheid te kry oor wat die wil van God vir ons is. Ons redeneer met mekaar oor wat die wet van God nou eintlik sê en wat dit van ons verwag. Soms raak ons sommer kwaad as die ander een nie kan of wil verstaan nie. Maar eintlik is God se opdrag baie eenvoudig. Daar is net een ding wat ons moet doen. Ja, net een ding: Wees lief vir mekaar. Dis al!
14Die hele wet van God word in een enkele sin opgesom: “Jy moet vir ander mense net soveel omgee soos vir jouself.”
Wil jy doen wat reg is in die oë van jou Here? Wees lief vir ander!
Wil jy ophou sukkel om voortdurend te struikel? Wees lief vir ander!
Is jy moeg om sleg te voel oor wat jy al weer gedoen het? Wees lief vir ander!
Het jy al genoeg oor begin om dit maar net weer verkeerd te doen? Wees lief vir ander!
So kan jy al jou mislukkings hier neerskryf met die antwoord: Wees lief vir ander! Voordat jy begin dink, praat of doen, maak eers seker of jy die ander persoon regtig liefhet, want dan sál jy reg doen. Nog makliker: Hoe wil ek hê moet ander teenoor my optree? Doen aan ander soos wat jy aan jouself gedoen wil hê. Ons moet elke oomblik van die dag hierdie opdrag probeer uitleef waar liefde die heeltyd die fondament en die vertrekpunt is vir alles wat ons doen.
En kom ons wees nou maar eerlik met mekaar – dis nie so maklik nie. Om een of ander rede kies ek die meeste van die kere vir myself en ek dink nie aan die ander een se behoeftes nie. Ek het altyd die regte intensies, maar sodra dit lyk of die ander een my ore gaan aansit, beskerm ek my eie belange en voor ek kon keer, stap die liefde by die deur uit en vlieg ons mekaar se hare in. Net om ’n entjie af in die pad weer erg skuldig te voel oor al die dinge wat gesê is. Maar dan is dit te laat en die skade is klaar gedoen.
Dit is vir my interessant om te sien dat kommunikasie die eerste krake in die fondament veroorsaak. Wanneer ons paartjies bystaan in huweliksvoorbereiding, stap ons vir ’n paar weke saam met hulle deur ’n internasionale kursus wat mens help om ongeveer tien onderwerpe wat op die huwelik van toepassing is, te bespreek. Die eerste onderwerp? Kommunikasie!
Dit is seker hoekom die Bybel ook praat van die tong as ’n swaard. 15As julle altyd aan die baklei is, as julle mekaar soos ’n trop kwaai honde byt en verskeur, bly daar later niks meer van julle oor nie.
Die maklikste plek waar ek en jy faal om eers aan die ander te dink, is met die mense wat die naaste aan ons is, die mense vir wie ons eintlik die liefste het. Sommer vir niks byt ons die ander een se kop af. Voor die eerste 3 woorde uit is het ek klaar in my kop uitgemaak wat gaan kom en ek kook sommer by voorbaat oor. Gou-gou lyk dit soos ’n slagveld. Het jy al gesien hoe gryp ’n paar kwaai honde mekaar? Dis aaklig. Dis ’n gemors, met niks goeds wat daaruit kom nie.
Hoe lyk dit in jou verhoudings?
Miskien is dit ’n goeie plek om te begin oefen om al God se instruksies en voorskrifte vir ons eie beswil na te kom. Miskien moet ons bewustelik elke oomblik wanneer ons met ons geliefdes werk, voortdurend sê: Dink eers aan die ander een. As ek in sy/haar skoene was, hoe sou ek wou gehad het dat daar met my gepraat of gewerk moet word. Vra jouself af hoe jy in liefde die probleem kan aanspreek en oplos.
God wil hê ons moet dit geniet om te lewe. God wil hê ons moet mekaar geniet. God wil hê ons moet mekaar liefhê en reg hanteer. Ons moet net elke keer by die wegspringblokke van die liefde begin.
Teks
Galasiërs 5:13-25
Om oor na te dink
Hoe lyk jou verhoudings?
Hoeveel keer cover jy vir jouself?
Dink jy eers aan die ander?
Gebed
Jesus, U het ons geleer van onvoorwaardelike liefde deur vir ons verlossing aan te bied terwyl ons nog sondaars was. Help ons om U voorbeeld te volg sodat ons nie mekaar verslind met ons woorde nie. Amen