God se Woord in vandag se woorde

Horses for courses


My seun se motor gaan in vir ’n diens by die handelaar. Ons wys hulle daarop dat die ruitveërs nie werk nie en dat hulle dit moet regmaak. Na duisende rande kry ons die voertuig terug met ’n nota van die werktuigkundige: “Julle moet die motor na ’n auto electrician neem, want ek weet nie hoekom dit aanmekaar die fuse blaas nie.”

Ek neem die motor na ’n vriend wat sy eie werkswinkel op die dorp het. Hy ken van motors. Die volgende dag bel hy. Hy het die fout opgespoor en hy maak sommer ’n plan dat ons nie die duur part hoef aan te koop nie.

Ek is sommer vies dat ons nie van die begin af die motor na hom toe geneem het nie. Dit sou my baie geld en moeite gespaar het,

Alhoewel Wilhelm baie goed is met karre, gaan ek nie na hom toe as daar iets fout is met my liggaam nie. Dan gaan klop ek aan my ander vriend, Herman, se spreekkamerdeur. Hy ken van en vinnig stap ek uit met ’n pakkie pille om die skeet te dokter.

Ek weet ook dat as ek my probleem met my motor na my doktorsvriend neem, hy sy ken gaan vryf en uiteindelik hard sal lag, want hy weet omtrent net-net hoe om ’n pap wiel om te ruil.

Soos die Engelsman sê: Horses for courses. Elkeen is ’n spesialis in sy eie veld. Dit is waarvoor hulle opgelei is en waarin hulle goed is.

So moet ons leer om ons probleme te neem na die Een wat by magte is om dit op te los. Wanneer jy in ’n krisis is, wanneer daar ’n uitdaging in jou pad lê, wanneer daar een of ander curve ball na jou toe aangevlieg kom, moet ons dit na die Een neem wat presies weet waar die oplossing lê.

13Is een van julle dalk in die moeilikheid? Laat hy dan met God gaan praat.

Soos Wilhelm weet waar om te soek vir die probleem in die enjin en dok Herman weet wat om voor te skryf vir hoes of die maag of die knie, so weet God presies waar die oplossing lê vir dit wat die pad vir ons moeilik maak.

Het jy een of ander krisis in jou lewe? Gaan maak dit in gebed en smeking aan God bekend. Gaan praat met God daaroor. Onthou net dat praat beteken, gesprek, ’n tweerigting gesprek, waar ons ook tyd vir God moet gee om Sy sê te sê.

Dalk wil God jou ietsie leer deur die uitdaging. Dalk wil Hy hê dat jy iets moet anders doen. Dalk wil Hy ietsie afkap wat nie lekker inpas in Sy prentjie van jou nie. Dit is juis in hierdie gesprekke met God waar ons wêreld oor God se wêreld skuif en ons sien waar ons dinge anders moet doen.

Dalk het jy nou al so baie jou uitdagings by God se voete neergesit. Dalk voel jy God hoor jou nie. Probeer dit nog ’n keer en terwyl jy so met die Een woel wat presies weet waar die oplossing lê, luister ook wat Hy vir jou te sê het.

Teks
Jakobus 5:13-20

Om oor na te dink
Glo jy dat God jou kan help?
Glo jy in gebed?
Wat moet jy doen?

Gebed
Vader, ek glo dat U die antwoord het op al my vrae en uitdagings. Ek glo ook selfs in gebed en tog sukkel ek. Dis asof die antwoorde net nie vinnig genoeg kom nie. Help my om te bid. Help my om reg te bid en te luister en te doen. In Jesus se Naam. Amen.

 

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek