God se Woord in vandag se woorde

Hou aan beur teen die rots


’n Vriend van my se besigheid is om geld aan kleiner maatskappye te leen, sodat hulle geld het om hulle klein besigheid vlerke te gee. Dis ’n wen-wen situasie en almal word bevoordeel.

Totdat dit uitkom dat een klein maatskappy dalk net ’n front is. My vriend raak agterdogtig en begin opvolg en bel. Later lui die telefoon net. Ek help hom om in kontak te kom met iemand by die groot maatskappy vir wie die klein maatskappy die werk sou doen.

Daar is nooit so ’n bestelling uitgereik nie. Dit was alles net ’n scam. My vriend se derduisende rande is net weg en hy word aangeraai om ’n saak by die polisie oop te maak.

Hoe kan ’n mens die uitdagings wat oor jou pad kom, sien as iets positief? Hoe gaan my vriend uit hierdie ene opstaan? Die gat in sy beursie is net te groot en daar is nie ’n pleister daarvoor nie.

Met so ’n gat is dit moeilik om opgewonde te wees. Vir seker loop blydskap wye draaie om hom. En tog is die aanbevole gedrag soos volg: 2My liewe mede-Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word. Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees.

Die Woord van God was nog altyd goed daarin om die teenoorgestelde gedrag as die wêreld se manier aan te hang. Jesus het gesê as iemand jou slaan, draai die ander wang. As iemand jou te na kom, wees vir hom of haar lief. As iemand jou vra om ietsie ’n paar meter te help dra, stap nog ’n kilometer of so saam.

As jy moet swaarkry weens jou geloof, moet jy eintlik bly wees. Dit maak nie sin nie, totdat jy besef wat dit eintlik vir jou geloof doen. Jy sien, jy word sterker. Hierdie lewegewende aar, dit wat jou aan die lewe hou en sal sorg dat jy vir ewig lewe, raak net dikker. Die kans dat jy dit eendag tot in die hemel gaan maak, net soveel beter.

Dit laat my dink aan die storie van God wat vir ’n man gesê het hy moet vir Hom werk. Die man moes met alle krag teen ’n rots stoot. Dit het die man vir maande lank gedoen.

Op ’n dag maak die duiwel ’n draai en lag vir die man. “Hoe lank gaan jy nog al jou kragte uitmors op die rots. Jy het in al die maande dit nog nie ’n millimeter geskuif nie.”

Mismoedig, daag die man by God op en kla dat daar nie eintlik enige sukses is nie. Maar God sê vir hom dat dit Sy (God se) werk is om die rots te skuif. Die man moes net teen die rots stoot. “Kyk net na jou arms en jou bene, kyk net hoeveel spiere het jy bygekry. Jy is nou soveel sterker.”

Wanneer ’n mens wys is, weet jy die swaar tye maak ’n mens sterker. Dit is goed vir ’n mens se geestelike lewe. Ja, dis nie maklik om so teen die swaar in die lewe te beur nie, maar op die ou end laat God dit alles vir ons ten goede uitwerk. Daarom moet ons aanhou en uithou. Die volgende seisoen is om die draai.

Teks
Jakobus 1:1-8

Om oor na te dink
Hoe maak jy met die swaar tye in jou lewe?
Het jy genoeg wysheid om die spiere te sien?
Vertrou jy God in jou swaar?

Gebed
Vader, dis nie altyd vir my maklik om te verstaan hoekom ek deur al die swaar moet gaan nie. Ek weet in my kop dat U alles sal laat uitwerk, maar ek kry swaar. Ek wou dit maar net sê. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek