Hou met alles vas aan God
Tydens die hooggety van Covid-19, doen ons ’n blits navrae by Roadtrip247 en vra vir hulle wat hulle dink die grootste kwessies onder jongmense is. Hier is die top 8:
- Gaan ek die jaar slaag?
- Ek is bang my familie raak siek.
- Ek is bang iemand naby my gaan dood.
- Ek is bang vir die toekoms.
- Ek is bang om siek te word.
- Gaan ek skool kan klaarmaak?
- Ouers wat nie werk het nie.
- Ek is bang vir die nuwe normaal.
’n Mens moet stadig hierdeur lees, want dit vertel ’n baie groot storie. ’n Storie van bang vir wat môre gaan gebeur. Daar is soveel onsekerheid in die wêreld. Niemand weet hoe die nuwe normaal gaan lyk nie.
Dit is ook nie net die jongmense se wêreld wat so lyk nie. Die grootmense se wêreld lyk ook so. Die meeste is bang. Die meeste is onseker. Niemand kan sommer sê hoe môre gaan werk nie.
Ons mense is nie lekker hiervoor gebou nie. Ons wil weet hoe môre lyk. Ons wil beplan. Ons wil nie onverhoeds betrap word nie. Alles is so deurmekaar. Waaraan kan ons vashou?
Vir jare was dit ’n baie goeie opsie om jou spaargeldjies in eiendomme te sit. Dit het maand vir maand ’n baie goeie opbrengs op jou belegging gebring. Jy kon elke aand lekker sag gaan slaap, want jou geldjies se groei was gewaarborg.
En toe slaan Covid-19 die wêreld en die mense word in hulle huise vasgegrendel. Ewe skielik moet almal van die huis af werk. Wonder bo wonder pas die meeste so goed aan, dat dit die nuwe normaal word. En die eienaars van besighede kanselleer huurooreenkomste by die duisende.
Vir die grondbaronne is dit ’n groot slag. Die beleggings wat hulle in die geboue gesit het, is ewe skielik aan die wankel. Wat eens ‘n goeie idee was, is nou ’n vrot belegging. Soos die jongmense, is hulle ook nou angsbevange en onseker of hulle volgende maand finansieel staande gaan bly.
Daar is nie eintlik iets in hierdie wêreld waarop ons kan vertrou nie. Ons kan slegs op God vertrou: 14Ons bely dat ons God vertrou en daaraan moet ons met albei hande styf vashou.
Ons moet vashou aan die wete dat Sy Seun vir ons aan die kruis gesterf het. Daarom kan ons met sekerheid sê dat ons eendag as ons die onbetroubare wêreld verlaat, die hemel kan instap.
Met alles in ons moet ons vashou aan die wete dat God altyd daar sal wees vir ons. Ook hier waar ons nog in die wêreld lewe en onseker is, kan ons seker weet dat God daar is en ons al die pad sal beskerm. Daarom kan ek nou minder bang wees.
Teks
Hebreërs 4:12-16
Om oor na te dink
Waarvoor is jy bang?
Wat maak jou onseker?
Hou jy met albei hande vas aan God?
Gebed
Vader, dit gaan nie goed in die wêreld nie. Daar is soveel onsekerhede en dit maak ’n mens bang. U is al waaraan ons kan vashou. Ja, ons geloof in U is ons anker om ons deur die dag te laat loop. Amen.