Hulp te midde van die lewe
Paulus gee ons ’n kykie in die lewe van ’n man van God. Hy vertel van Timoteus wat kliphard saam met hom werk om die evangelie by die mense uit te kry. Hy wil baie graag vir Timoteus na Filippi toe stuur, maar wag eers dat die omstandighede ’n bietjie afkoel. Sy eie hart smag daarna om na sy vriende en kudde te gaan. ’n Mens sien Paulus se hart waar hy regtig omgee vir dié mense en alles probeer om hulle te help – al sit hy self in die tronk.
Verder vertel Paulus die storie van Epafroditos. Die gemeente het juis vir hom na Paulus gestuur om te help in die krisistyd, maar ai, toe gebeur die lewe ook met hom. Hy word so siek dat hy by die dood omdraai.
25Ek dink ook die tyd het gekom om Epafroditos na julle toe terug te stuur. Hy het saam met my geswoeg en gesweet. Julle het hom mos na my toe gestuur om my te help. Nou stuur ek hom na julle toe terug. 26Hy verlang baie na julle. 27Dit het hom ook gepla dat julle van sy siekte gehoor het. Glo my, hy was baie siek. Hy het by die dood omgedraai. Maar God het nie van hom vergeet nie en hom gesond gemaak. God was nie net vir hom goed nie, maar ook vir my. As hy gesterf het, sou die hartseer vir my byna te veel gewees het. 28Ek sal hom so gou moontlik na julle toe terugstuur. Ek kan my nogal voorstel hoe bly julle gaan wees wanneer julle hom weer in lewende lywe sien. Vir my sal dit ook goed wees, want dan hoef ek my nie meer oor hom te bekommer nie.
Iemand het eenkeer gesê: Life happens when you are making other plans. Dis presies wat met Paulus en sy vriende gebeur het. Gewone dinge, soos liefde, omgee, uitreiking, hulp, ondersteuning, siekte, hartseer en selfs amper die dood kom klop aan hulle deur. Maar dit breek nie hulle spoed nie. Hulle sit nie in sak en as nie. Hulle gooi nie hulle speelgoed rond as dinge nie uitwerk soos hulle dink dit moet uitwerk nie. Nee, met passie beur hulle voort en trek alle stoppe uit om die evangelie by die mense uit te kry. Hulle maak groot planne om ten spyte van die lewe steeds te doen waarvoor hulle geroep is.
Ek laat sak my kop in skaamte, want sodra ek net ’n klein bultjie slaan, sodra die geld pla, sodra siekte ’n draai kom gooi, sodra ’n verhouding amps trek, sodra dinge nie werk soos ek wil hê dit moet werk nie, is my eerste twee woorde: Hoekom Here? En dan rammel ek sommer af: Hoekom ek? Hoekom nie iemand anders nie? Here! Here, hoor U my? En ek begin later in hoofletters praat met hope vraagtekens agterna.
Ook maar net mens!
In die gewone worsteling met die lewe skyn God se betrokkenheid deur: …27Maar God het nie van hom vergeet nie… Wanneer die lewe begin druk, dink ons so maklik dat God ons nie meer hoor nie. Dit voel asof Hy net nie meer daar is nie. So asof ons te veel verkeerd gedoen het en dat God nou sy rug op ons gedraai het.
Dis nogal nie waar nie. God vergeet ons nooit nie en indien nodig, sal Hy selfs ’n wonderwerk laat gebeur net om sy plan deur ons tot uitvoering te bring. Dit moet ons onthou. Ons moet dit deel maak van ons lewe: God sal ons nooit vergeet nie. Daarvoor is hy net te lief vir ons.
My eie hart druk swaar vir ’n tjommie van my. Weens onvoorsiene redes word hy gedwing om sy seun in sy voorlaaste jaar van skool te skuif. Hulle sukkel. Ek skryf vir hom:
Ja, so laat God toe dat die lewe sy loop met ons elkeen neem te midde van ons eie besluite. Ek glo dat ’n mens ’n breakdown nodig het om ’n breakthrough te kry. Nee, dis nie maklik nie, maar tog het ek die naïewe geloof dat God die ding ten beste sal laat uitwerk. Hy’s nogal goed met sulke dinge! Eintlik wil ek vir jou sê: Watch this space! Mag julle na ’n jaar of wat terugkyk en sien…
Te midde (of ten spyte) van die lewe is God steeds betrokke. Ek glo dit soos ’n kind (en soms is dit al wat ek het om aan vas te hou). God sal vir my en my tjommie en vir jou nooit vergeet nie.
Om oor na te dink
Watter vrae vra jy as die lewe druk?
Soek jy soms ook vir God?
Voel jy soms alleen?
Gebed
Here, ons planne werk nie altyd uit soos ons dit graag wil hê nie. Help ons asseblief om U so te vertrou dat ons omstandighede ons nie moedeloos maak nie. U is altyd in beheer en U weet die beste. U sal ons nooit alleen laat nie. Mag hierdie wete ons help om staande te bly. Amen