God se Woord in vandag se woorde

Iets uit die hoed ruk of selfs ’n wonderwerk


Vriende van ons se kinders sukkel om kinders te kry. Dis nie ’n maklike pad nie. Dit wat ons verwag normaal moet gebeur, het nou ’n wetenskaplike, goed beplande en ek wil amper sê, koue proses, geword.

Hoe teleurgesteld moet hulle nie wees as die swangerskaptoets elke keer negatief is nie? Wonder hulle ook hoeveel keer gaan hulle nog net een keer probeer? Wonder hulle ook wanneer die geld gaan opraak?

Hoe sleg moet dit nie vir hulle wees as hulle hoor van nog ’n kindjie wat geaborteer is nie? Hulle wat so graag met alles in hulle ’n kleine baba wil hê en aan die ander kant, word een sommerso weggegooi, omdat dit nie nou die regte tyd is of net nie nou welkom is nie.

Sara het geweet dat haar man graag ’n seun sou wou hê. ’n Eie seun om sy familie die toekoms in te vat. Sy het ook geweet van God se belofte en dat die belofte net op een manier waar sal kan raak, en dit is deur haar baarmoeder. Maar besef Abraham dat sy al amper 90 is, dat die fabriek nooit oop was nie en op hierdie ouderdom is die kans minder as minus een dat dit nou sal oopgaan?

En tog het Abraham geglo. Hy het vasgehou aan die belofte wat God vir hom gegee het. Al was die odds teen hom en Sara. Al het die wetenskap wat gesê en al het die mense vir Abraham en Sara in hul mou gelag, het hulle vasgehou aan God se belofte dat hulle ’n groot nageslag sal hê.

11Abraham was al baie oud en hy en sy vrou Sara kon nie kinders hê nie. Tog het Abraham op die Here vertrou en pa geword. Hy het geglo dat God die belofte wat Hy gemaak het, nie sou breek nie.

Ek wonder hoe lank sal ek uithou? Ek wonder na hoeveel jaar ek die streep sal trek en tou opgooi? Ek wonder hoe lank sal die belofte helder bly en dan stukkie vir stukkie vervaag?

Nadat God die belofte aan Abraham gemaak het, moes hy 15 jaar wag voordat God weer die belofte aan hom hernu het. Daarna moes hy en Sara nóg 10 jaar wag voordat Isak gebore is.

En tog hou hy geduldig aan met glo. Hoe God dit gaan regkry, het hy nie geweet nie, maar hy het bly glo dat God een of ander tyd getrou sal wees. Hy het geweet God is die almagtige Skepper wat die hemel en die aarde gemaak het en vir Wie niks onmoontlik is nie.

Abraham het geglo dat God net sal spreek, dan sal die berge op die aarde rondskuif. Vir God was daar niks te groot om te doen nie. Abraham het geglo dat, al kos dit ’n wonderwerk, hy nog eendag sal pa word.

Ai, ons weet nie hoekom is dit nie vir almal beskore om ouers te word nie. Ons kan mos nie om die draai sien nie en weet nie of God ons beskerm teen groot smart nie. Dit bly onverstaanbaar.

Wanneer God egter ’n belofte aan ons maak, waarvan ons mos die meeste in Sy Woord kry, moet ons by Abraham en Sara leer. Ons moet met alles daaraan vashou. Al sê die wetenskap en die bure wát, glo dat God vir jou sal voorsien, al kos dit ’n wonderwerk. God sal altyd Sy beloftes waar maak.

Teks
Hebreërs 11:8-19

Om oor na te dink
Glo jy?
Glo jy dat God Sy beloftes nakom?
Glo jy dat Hy selfs ’n wonderwerk kan doen om die beloftes in jou lewe na te kom?

Gebed
Vader, dankie dat U ’n goeie God is en U nie steur aan die mens se wetenskap of planne nie. Dankie dat U elke keer U beloftes waar sal maak, al kos dit wat. Help my om net te bly glo, al het die uurglas al uitgeloop. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek