In die grys area
Dit is redelik maklik om te onderskei tussen reg en verkeerd. Ons weet dit is verkeerd om te steel. Ons weet dit is verkeerd om iemand se lewe te neem. Ons weet dat God sonde haat. Dis redelik maklik om te onderskei tussen dade wat in die lig is en watter nie.
Die probleem kom wanneer mense begin praat van grys areas. Hier weet ’n mens nie mooi waar die lyn loop wat reg en verkeerd van mekaar skei nie. Selfs in kerke word boodskappe verkondig wat die verkeerde kant van die lyn na die grys area verskuif.
Manie sien dit ook raak en dit pla hom:
Die Here is bekommerd oor Sy volk. Hulle slaap en die herders lei hulle nie na Sy wil nie. Die herders sus hulle aan die slaap en sê: “Vrede en rustigheid,” terwyl daar min tyd is.
Die vyand loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na die volgelinge van Jesus om hulle te verlei. Hy verdraai die Woord van God op klein subtiele maniere, bring teologieë in wat nie 100% Bybels is nie en die mense loop soos blinde skape agter hom aan.
Onthou, die slang in die paradys het ook God se woorde verdraai toe hy vir Eva gevra het of God werklik gesê het hulle mag nie van die boom eet nie en sodoende twyfel by die mens gekweek.
Dis al wat die vyand en sy onderdane nodig het om God se kinders weg te rokkel – twyfel en verwarring.
Ons moet terugkeer na God se Woord en vashou aan die waarheid. Ons moenie vir ons predikers en profete aanstel om ons ore te streel nie.
Jesus self het baie gepraat oor die eindtyd en die vals profete en predikers.
Manie het ’n punt beet. Sonder dat ons dit besef, word ons blootgestel aan mense se interpretasies. Op elke moontlike manier sal die duiwel probeer om ons uit God se hand te ruk. Daarom moet ons versigtig en wakker wees, selfs in die kerk.
Paulus waarsku ook en wys ons waarvoor ons moet uitkyk: 3As iemand ‘n ander leer verkondig en nie hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus en by die leer van ons godsdiens nie, 4is hy verwaand en weet hy niks. Hy het ‘n sieklike beheptheid met twisvrae en met stryery oor woorde. Daaruit ontstaan afguns, twis, beledigings, gemene verdagmakery, 5voortdurende rusie van mense wat verstandelik verward en van die waarheid beroof is. Hulle dink dat die godsdiens iets is om geldelike wins mee te maak. (1983-vertaling)
Vir my is daar een goue reël: Pas die boodskap wat hier by my ore inkom by Jesus se woorde? As dit nie in dieselfde lyn as Jesus se woorde staan nie, moet ek dadelik daarvan ontslae raak.
Daar is net een suiwer boodskap en dit is die boodskap wat Jesus hier op die aarde gebring het. Kom ons maak seker dat dít wat ons as die waarheid aanvaar in lyn is met Jesus se boodskap.
Teks
1 Timoteus 6:3-5
Om oor na te dink
Is jy seker dat die boodskap ooreenstem met die Woord?
Hoe weet jy dit?
Vra jy die Heilige Gees om jou te help met die regte interpretasie?
Gebed
Jesus, U boodskap van verlossing is eenvoudig en maklik om te verstaan. Help my om by die suiwer waarheid te hou sodat ek nie mense mislei of afstoot deur ’n onnodige gestryery oor dinge wat ons aandag weglok van die verlossingsboodskap nie. Amen.