God se Woord in vandag se woorde

In die middel tussen twee


Daar is mense met soveel probleme in die lewe. Mense met geldelike probleme. Mense wat so pas gehoor het dat hulle nie meer werk het wanneer die nuwe maand sy opwagting maak nie. Die plek waar mense egter die meeste pak vat, is in verhoudings.

Dis asof die duiwel presies weet waar om ons mense te kou. Hy kom so met ’n klein hamertjie en hou aan kap. Dit raak al hoe seerder, totdat dit eenvoudig net breek en uitmekaar spat.

Ons is bevoorreg dat mense baie keer by ons voordeur, dis nou die een hier by die huis of die virtuele een, kom aanklop. Gewoonlik stukkend met geen lus om een tree verder in die lewe te stap nie.

So daag iemand by ons deur op. Emosioneel stukkend. Geestelik stukkend. Fisies stukkend. Ons help graag, maar soms voel jy, jy weet nie hoe verder nie. Daar is al genoeg tyd vir albei gegee om oor te kook en leeg te raak, maar nou is dit tyd om rigting te gee.

Gewoonlik sien ons die partye eers apart om elkeen se storie te hoor en elke keer het die storie twee kante, want dit hang net af deur watter bril jy kyk.

Wanneer die vrou hier sit, klink haar storie na die waarheid, die enigste waarheid. Wanneer die man sy kant van die storie vertel, glo jy dit, maar eintlik staan die twee weergawes presies teenoor mekaar.

Ek besef dan my onvermoë om eintlik enige iets te sê. Wie is nou reg en wie is nou verkeerd?

Dis sulke tye wanneer ek op my knieë sak en vir God vir wysheid vra. Wysheid om onpartydig te wees. Wysheid om nie kant te kies en dalk bo-oor die waarheid te kyk nie.

Baie keer is dit vriende of familie wat na ons toe kom vir hulp en omdat daar ’n dieper draadjie deur ons verhouding loop, wil ons kant kies. Ons wil die vriend help en wanneer ons uit sy of haar hoek wil help, kies ons hulle kant. Die raad wat ons daar gee, is dan dalk nie so wys nie.

Baie keer is ons die enigste persoon waarna die vriend of familielid sal luister. Juis ons raad sal motiveer om reg te doen. Hierdie raad moenie kom waar ons in hul hoek staan nie, maar eerder waar ons in die middel staan, sonder om kant te kies.

Hier sien ’n mens beter. Hier sien ’n mens albei se kante raak. Hier kan God ons wys hoe om op te tree, hoe om te help en hoe om albei in die regte rigting te wys.

As jy werklik vol wysheid wil wees, kan jy nie anders as om onpartydig te wees nie.

17Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig …

Teks
Jakobus 3:13-18

Om oor na te dink
Vir wie moet jy help?
Hoe moet jy maak om rêrig onpartydig te wees?
Wat moet jy sê?

Gebed
Here, ek wil graag in alle omstandighede wys optree. Ek wil graag my vriende help, maar soms voel ek so onbeholpe. Ja, ek weet ek kies kant. Gee my asseblief wysheid om reg op te tree. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek