God se Woord in vandag se woorde

In die spaar generator inge-plug


2 Korintiërs 3:4-17

In Suid-Afrika ken ons die afgelope tyd van krag wat af is. Eskom se beplanning was nie lekker nie en daarom is daar soms eenvoudig net nie genoeg krag nie. Sulke tye moet ons maar gebruik maak van kerse en gasstofies. Sommige ouens en besighede is egter gelukkig dat hulle spaar generators het en wanneer die krag sluk, skop dié kragopwekkers sommer vanself aan.

Met die sondeval het ons krag ook ge-trip. Al die ligte het afgegaan en ons het in die donker gelewe. En hoe vat ’n mens nou koers as jy nie eintlik ’n idee het waarheen jy op pad is en hoe jy daar moet uitkom nie? Dit was ’n rondvallery in die donker. Mense het in mekaar vasgeloop. Mense het gestrompel, gestruikel en geval.

God het gesien dat ons mense sonder krag is en maak toe ’n plan. Jesus kom na die aarde en skakel weer die krag aan sodat die mense kan sien. Jesus raak toe die spaar generator wat weer vir die mense krag gee om te sien en te werk. Paulus weet dit: 4Deur sy goedheid help Christus my om al my vertroue in God te stel. Daarom probeer ek nooit om iets uit eie krag te doen nie. 5Uit my eie kan ek in elk geval niks regkry nie. God self het my toegerus om sy werk te doen.

Op my meisie, wat op universiteit oorlede is, se begrafnis het die dominee Filippense 4:13 gelees: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Sy was ’n wonderlike mens en het daar waar sy in Grabouw skool gegee het ’n moewiese verskil in mense se lewens gemaak. Eintlik was die samelewing anders, omdat sy daar was. Een klein dametjie wat so ’n verskil gemaak het. Hoe het sy dit reggekry? Sy was inge-plug in die spaar generator. Sy het geweet waar haar krag vandaan kom. Sy het geweet waar haar kragbron is.

Baie keer sien ek mense rondom my met baie potensiaal. Mense met gawes en talente wat ’n radikale verskil in ander mense se lewens kan maak en tog gebeur daar niks. En die ergste van alles is dat die mense rustig is en dink hulle is oraait, want hulle doen tog dit wat hulle kan. Die probleem is dat hulle plug wat net daar op die grond lê, nog nooit inge-plug was nie. Hulle het nog nooit by Jesus, wat die krag gee, inge-plug nie. Op hulle eie stoom kry hulle nie veel reg nie. Hulle dade getuig ook daarvan. Dade sonder enige impak, sonder enige krag.

Hoe anders sal die wêreld nie lyk as al God se kinders inge-plug is nie?

Ek sit houtvloere in my huis in en ek en James, die bouer, gaan ’n deal aan. Hy wil ’n nuwe saag koop en ek het ook een nodig vir die vloere. Dit gaan my ’n plaas se geld kos om een te huur. Ek gee hom toe ’n paar rand en koop só ’n klein aandeeltjie in sy saag. Hy bring die saag hier aan. Man, dis ’n lekker saag en hy sny elke stukkie hout perfek. Maar kort-kort, as ek die sneller trek vir die saag om te rol, is daar niks, want dan het iemand die prop uitgetrek. Dan kan ek net mooi niks doen nie. Om die lem met die hand te draai, kan seker werk, maar ek vermoed dit sal my ’n volle dag neem om deur een plankie te kou. Sonder dat die pragtige saag by die kragbron ingeprop is, beteken dit nie veel nie.

Elke kind van God kan soveel meer doen as hulle net hulle potensiaal in Christus verstaan. Uit ons eie kan ons nie veel doen nie. Sonder dat ons by Jesus ingeprop is, kan ons dit maar los, want ons sal net meer gemors in die donker aanvang as goed.

Ek vermoed dis nou tyd dat ons gaan kyk watter impak ons maak, want dit sal wys of ons by Jesus inge-plug is of nie. Dalk het dit tyd geword dat ons tyd maak om by Jesus uit te kom en opge-charge te word om ’n kragtige verskil met ’n groot impak in die wêreld te maak.

Om oor na te dink

Hoe kragtig is jou impak in die wêreld?

Bereik jy jou potensiaal?

Is jy inge-plug?

Gebed

Vader, ek wil soveel meer doen. Ek wil ’n ware impak in die wêreld maak. Help my om by U voete te sit om krag te ontvang. Werk deur my en maak ’n verskil waar ek gaan. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek