In die steeg!
Hoekom stry mense tog so maklik en baie maal oor dinge waaroor hulle nie heeltemal ingelig is nie? Hulle hou hulle opinies as die waarheid voor en later glo ander dit asof dit wél die waarheid is.
Dalk moet ons onsself nie so ernstig opneem nie. Dalk moet ons dít waarin ons so onwrikbaar glo, gaan opweeg teenoor wat in die Bybel staan. Dalk het diegene wat ons geleer het self nie alles ten volle verstaan nie. Staan liewer so ’n entjie terug en maak seker dat jou waarheid die groen lig kry voordat jy dit met ander deel.
Want, sê Paulus, ons kan nou maar sê wat ons wil van al dié dinge, daar is eintlik maar net een groot waarheid: 19Maar die fondament wat God self gelê het, kan niemand verskuif nie. Dit staan vas. Op die fondament staan geskryf: “Die Here ken almal wat Syne is,” en: “Elkeen wat openlik sê dat Hy aan die Here behoort, moet wegbly van alles wat verkeerd is.”
Aan die een kant is dit seker ’n waarskuwing dat ons 100% seker moet wees dat ons die regte pad stap, want God sien en hoor alles. Hy ken jou. Hy weet van jou. Hy weet met watter planne jy besig is. Hy weet wat jy dink. Hy weet wat jy sê. Hy weet hoe jy die lewe loop.
Maak die wete jou effe skaam of ongemaklik?
Maar aan die ander kant is hier ook ’n belofte: God gaan jou nooit alleen los nie. Hy sal jou beskerm. Hy kan voor in die pad sien en Hy weet waarheen jy oppad is. Hy weet wat môre gaan gebeur. Hy weet hoe jy in elke situasie gaan reageer, want Hy ken jou baie goed.
Na die waarskuwing en belofte kom ook ’n bietjie raad: Stap bewustelik op die regte pad. Los die afdraaipaadjies. Aan die begin lyk die paadjies soms baie rooskleurig, maar net om die volgende draai begin die kleur verwelk en kom jy gou agter dat dit die pad van die dood is.
Ons word maklik afgerokkel van die regte pad en dan sukkel ons om in die nou straatjies om te draai. Met baie stampe en stote en pyn kom ’n mens gehawend uit die kloue van die doodspad.
Hoeveel verhoudings en huwelike lê nie gesaai in die stinkende afvoerpype nie?
Daarom die raad vandag: Los die verkeerde en doen wat reg is. Jy weet wat verkeerd is. Jy weet wat reg is. Daardie liggie wat elke keer in jou kop aangaan as jy hoor oor reg en verkeerd: Dit is daai ding waaraan jy moet werk.
Mag God ons elkeen op die pad van die lewe help.
Teks
2 Tim 2:14-19
Om oor na te dink
Is dit waarvoor jy staan, regtig reg?
Bly jy weg van alles wat verkeerd is?
Is daar plek vir omdraai?
Gebed
Here, dankie dat U Heilige Gees my herinner wanneer ek op ’n afdraaipaadjie stap. Help my om gehoorsaam te wees wanneer U my in liefde die regte pad aanwys. Amen.