In lyn gekorrel en gelê
Onthou, die mense van Efese was baie jong christene en het nie presies geweet waar pas hulle in en wat die rol is wat hulle moet speel nie. Daarom word daar, soos op vele ander plekke, die voorbeeld van ’n huis gebruik om vir hulle op ’n eenvoudige manier die hele prentjie te skets: 20Of laat ek die beeld van die bou van ’n huis gebruik. Julle is deel van die gebou wat God in hierdie wêreld aan die bou is. Die fondament van die gebou is die boodskap oor Jesus wat julle gehoor het van die manne wat deur God gestuur is en namens Hom praat. Die belangrikste steen in die gebou, waarsonder die gebou sommer inmekaar sal val, is Jesus self. Omdat ons almal Jesus s’n is en Hy ons Here is, vorm ons almal saam ’n sterk en stewige gebou.
Die fondament van die huis is deur die priesters en profete gelê. By hulle het ons geleer van Jesus. Hulle het honderde jare voor Jesus se koms al van die Verlosser gepraat wat gaan kom om die saak tussen die mens en God te kom regstel. Hierdie fondament is die beste nuus vir al die verlore mense. Op hierdie fondament word ons, wat die stene is, gelê.
Maar voor ons gelê kan word, moet daar eers ’n steen wees waarop die ander stene gelê kan word. Onthou dat hulle in daardie tyd nie gebakte, reguit stene soos ons nou het, gehad het nie. Hulle het die reguitste klip geneem en dit as die hoeksteen gelê. Al die ander stene is dan volgens die steen gekorrel en gelê.
Jesus is die reguitste steen in God se huis. Ons moet in lyn met Hom gekorrel en gelê word. Wanneer Hy die hoeksteen is, kan die huis reguit en stewig gebou word. En God lewe dan binne die huis, saam met die Heilige Gees: 21Dit is soos ’n spesiale huis net vir God. Elkeen van julle wat Jesus s’n is, is deel van hierdie gebou. 22En God self woon in julle gebou omdat sy Gees in julle is.
Watter magtige en sterk huis kan dit nie vorm nie! Jesus as die hoeksteen, kinders van God die stene, die Heilige Gees wat in almal woon doodgewoon ook daar en dan God wat die inwoner is. Dit is ’n huis wat ’n oase is vir die mense wat buite in die woestyn aan die doodgaan is. Hier is lewende water wat die verlore mense se dors vir altyd sal les. Hier sal die hongeres altyd kragtige kos kry en nooit weer honger word nie.
Dit is God se idee met ons wat kinders van Hom genoem word. Ons moet ons lewe op Jesus rig. Hoe? Kyk net hoe het Hy op die aarde geleef. Lewe ook so. Wees lief vir jou medemens en gee om.
Ek wonder wat sal gebeur as ons nie ons oë op Jesus rig nie en sommer net op ons eie insigte staatmaak. Ek wonder of ons dan nie juis die oorsaak is dat God se huis nie lekker lyk nie – vol skewe stene en gate.
Hier is ’n storie van iemand wie se lewe getuig van ’n lewende steen:
Ek was dié week in Upington. Sien toe die twee oumense stap rus-rus vanaf die taxi-staanplek, rigting Pabalelo.
Ek het hulle drie keer gesien. Seker na so 3 ure nadat ek hulle die eerste keer gesien stap het, loop ek hulle weer raak by die sportgronde naby Spar waar hulle tweetjies in die hitte onder ‘n skaduboom rus.
Stop by hulle en ou Andries vertel my hy is 70 jaar oud en kom van die kliniek af, want hulle soek “papiere” by hom om sy pensioen te kan betaal.
Vra toe waarheen hulle stap, sê hy: “Oubie, ons gaan nou Pabaleleo toe.”
“Hoe vêr?” vra ek.
“Nee wat, Oubie net so 1 km.
“Kan ek julle nie maar wegbring nie?, “vra ek. Hy antwoord: “Nee wat, Oubie – jy sal (beduie vreeslik) dóér moet omry en dit sal jou tyd mors – ons sal stap”.
“Het julle al ietsie geëet vandag?”, vra ek.
“Nog nie, Oubie.”
Sarah sê toe sy het dié oggend gwarra-goedjies uitgehaal en hulle gaan dit netnou kook. (vreeslik opgewonde)
Ek krap in my beursie en kry ’n paar note en haal ’n 2-liter Coke agter die sitplek uit, gee dit vir die twee en Andries sê: “Sarah, die Here het ons vandag wéér nie vergeet nie.”
Toe vra of ek ’n foto van hulle kan neem en Andries sê : “Hoe kan ons nié vir die engel van die Here ’n foto gee nie?” Die Here wil seker sien hoe ons lyk.”
Toe die kamera kliek, lig hy sy hande en sê: “Dankie, Here!”
Gaan soek ’n plekkie waar jy vandag ’n lewende steen in God se huis kan wees. Gekorrel en reguit gelê langs Jesus.
Teks
Efesiërs 2:19-22
Om oor na te dink
Glo jy dat jy ’n lewende steen is?
Korrel jy op Jesus?
Herken die mense rondom jou God se huis?
Gebed
Ons Vader wat in die hemel is, dankie vir die voorreg dat ek deel kan wees van U huis. Dankie dat U vir Jesus as die hoeksteen gelê het en dat ons onsself op Hom kan rig. Help ons om soos Jesus op die aarde te leef. Help ons om ander se lewens makliker te maak. Help ons om plekkies van rus te bring in die woelige lewe. Amen