God se Woord in vandag se woorde

In my plek die pak vat


2 Korintiërs 3:4-17

Soms is dit nodig dat ons weer die boustene van ons geloof aanhoor. Paulus is besig om aan die Korinte te verduidelik hoeveel beter die nuwe bedeling is. Die ou bedeling was mos dié van die wet. God het aan Moses die wet gegee sodat die volk presies kon weet waar die grense van God se wil is waarbinne hulle moes lewe. In die bedeling het die straf van dié wat die wet oortree het, die mense weerhou om by God uit te kom.

Jesus het egter ’n nuwe bedeling ingelei. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het hy op een slag vir al die straf van die mensdom se sondes gesterf. ’n Mens kon dit nie regkry nie. Slegs God is by magte om vir al sy kinders se sondes te sterf. Deur dit te doen het Jesus nie ’n streep deur die wette wat aan Moses gegee is, kom trek nie. Nee, Jesus het net aan die impak, dit wat gebeur as ’n mens óór die grense van die wet gaan, kom verander. Deurdat Hy gesterf het aan die kruis, het Hy die straf wat ons eintlik moes kry omdat ons nie binne die grense van God se wil leef nie, kom dra. Hy het in ons plek die pak kom vat.

In my jongdae het ons nog pak gekry met ’n rottang. Daar is vele stories uit my skooldae wat ek kan vertel hoekom ek op ’n gereelde basis vir ses van die bestes moes aantree. Een van hulle was vir my aandeel in die afblaas van ons Afrikaanse juffrou se kar se bande by ’n debataand. Toe ek die volgende dag oor die interkom na die hoof se kantoor genooi word, het ek geweet ek moet my pakkie gaan haal vir die vorige aand se moeilikheid. Soos ’n os ter slagting het ek so stadig as moontlik gedrentel.

En terwyl ek so voor die deur staan, hoor ek hoe iemand anders ook ses van die bestes kry. Dit klink nie lekker nie en my hart klop saggies. Die deur gaan oop en ’n vriend van my stap uit. Die hoof lig my in dat ek maar kan teruggaan klas toe, want my vriend het die pak namens my gevat…

Nee, ongelukkig het dit toe nie so gebeur nie en ek moes my pak soos ’n man vat.

Tog is dit presies wat Jesus vir ons aan die kruis kom doen het. Hy het ons pak kom vat. As ons droogmaak en buite die wil van God speel, kom buk Jesus as te ware in ons plek. Dit is egter net alles in oortreffende trap. Natuurlik is die loon vir die sonde, die straf vir ons droogmaak, die dood. Daarom moes Jesus sterf. Hy moes in ons plek aan ’n kruis doodgemaak word, met die gevolg dat ons vry is. Die straf, die dood vir ons verkeerd doen, is deur Jesus gedra.

Dit is die wonder van ons verhaal. Dit is die wonder van ons God.

Dit is presies die boodskap wat Paulus so aan die sing het.  9… Wat sal ons dan sê oor die nuwe era waarin ons nou leef? Ons het nie genoeg woorde om dit mee te beskryf nie. Dit skitter absoluut met God se heerlikheid. 9Ons leef nou in die tyd waarin God mense uit sy goedheid van hulle sondes vryspreek omdat hulle in Hom glo. 10Die glans van die ou era is niks in vergelyking met hierdie nuwe tyd nie. 11Ek kan dit nie genoeg sê nie: as die era van die wet, wat natuurlik nou agter die rug is, met soveel glans gepaardgegaan het, hoeveel te meer sal hierdie nuwe era, wat vir altyd aanhou, met heerlikheid skitter!

Ek en jy leef ook nou in die tyd. Ons leef in die nuwe bedeling waar God in ons plek die pak gevat het. Ons leef in ’n bedeling waar ons die Heilige Gees ontvang. Ons leef in ’n bedeling waar die glorie van God skitter en dit hou vir altyd en altyd aan. Nou moet ons so leef. Ons moet ’n lewe leef waar die nuwe era sigbaar is. Ons moet leef soos mense wie se pak deur Jesus gevat is. Deur ons dade moet mense hierdie nuwe bedeling kan raaksien en ook daarna begin smag.

Mag dit tog in ons elkeen se lewe waar en sigbaar word.

Om oor na te dink

Lewe jy in die nuwe bedeling?

Verstaan jy dat Jesus jou pak gevat het?

Sien ander dit in jou daaglikse lewe raak?

Gebed

Vader, hoe sê ’n mens vir U dankie dat Jesus my pak gedra het! Eintlik is dit te groot vir my verstand om te verstaan hoe Jesus reeds in die verlede vir my sondes van die toekoms gesterf het. Maar al verstaan ek dit nie altyd nie, is ek nog dankbaar. Help my om dit so uit te leef dat ander dit sal raaksien en ook daarna sal smag. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek