In my plek tronk toe
By ’n mannegroep lewer die voorsitter ’n kragtige getuienis van hoe die Here sy besigheid seën. Hy was vroeër die jaar so opgewonde oor ’n baie groot kwotasie wat hy op ’n plaas afgegee het, maar alhoewel hy die goedkoopste was, kry hy toe nie die werk nie. Tog het dit nie sy spoed gebreek nie en hy het aangehou glo dat die Here hom sal help om ander besigheid te kry. En dit het so gebeur. Hy kon later nie meer deur sy oë sien nie, so besig was hy.
Na die tyd staan en gesels ons en ek staan verbaas oor sy lewensstorie. Jy sien, hy het vasgeval in die dobbelwêreld. Sjoe, dis darem ’n moeilike monster om van ontslae te raak. Hy vertel dat hy net nie kon ophou nie en dit het hom in finansiële moeilikheid gedompel. Om hierdie monster te finansier, moes hy later by sy werk geld “leen.” Nie dat ander eintlik daarvan geweet het nie. Hy vertel hoe absoluut teen die grond hy was toe hy die laaste aand daar uitstap en R40 000 net so in die water gegooi het. Hy is vir bedrog aangekla en skuldig bevind en die ergste van alles, hy moes tronk toe.
Sjoe, ek kon nie glo dat die suksesvolle sakeman, wat net soos ek lyk, ’n misdadiger was en in die tronk moes gaan sit nie. Hy vertel my van die lewe in die tronk. Ek probeer myself daar indink, maar onthou net van ’n fliek van Sylvester Stallone. Ek vermoed dit gee nie die ware toedrag van sake nie.
Die tronk is nie ’n lekker plek nie.
Tog moet ons pasop om te gou vinger te wys, want eintlik hoort ons elkeen in die tronk. Gaan kyk ’n bietjie na jou dade. Daar waar ons nie die liefde gesaai het nie en uit eie eer opgetree het. Kyk na die tien gebooie en jou doen en late van die afgelope paar dae en jy sal sien dat jy ’n paar keer die wet oortree het. En die straf van die wet is die tronk: 23Voordat hierdie nuwe tydvak van geloof aangebreek het, was ons almal in ’n yslike groot tronk opgesluit. 24Die wet het ons dag vir dag opgepas 25totdat hierdie wonderlike nuwe tyd van geloof aangebreek het. 26-27Ja, soos ’n kwaai oppasser het die wet heeltyd oor ons baasgespeel totdat Christus uiteindelik gekom het.
Jesus het die bande van ons sonde kom afsny. Hy het die tronk se deure kom oopsluit en die sleutel weggegooi. Die straf en die tronk kom nie meer in spel by kinders van God nie. Jesus het die straf aan die kruis kom dra. Ja, met my dade verdien ek om tronk toe te gaan. Eintlik nog meer! Ek verdien om ter dood veroordeel te word. Ja, dis wat ek verdien. Gelukkig het God ons jammer gekry en ’n plan gemaak om ons te red en in plaas daarvan dat die knoppie gedruk word om skokgolwe deur ons te stuur, sluit Jesus die tronk se deur oop.
Watter goeie nuus is dit nie vir ons nie!
Hierin moet ons glo. Nie deur werke sal ons in die hemel kom nie, maar in geloof dat Jesus Christus genoeg gedoen het. Net dit! 26… Maar nou het ons geloof ons in die regte verhouding met God gebring. Daarom staan ons nie meer onder die baasskap van die wet nie. Nee, nou is julle almal God se kinders omdat julle in Christus Jesus glo.
Hoe maklik kom ons nie uit die petalje uit nie. Vir die besigheidsman was daar nie omdraai kans nie. Hy besef hy het ’n fout gemaak. Hy het dit erken en sy pak soos ’n man gevat en in die tronk gaan sit. Daar was niemand wat vir hom gesê het: “Wag, gaan jy huis toe, ek sal in jou plek in die tronk gaan sit” nie. Nee, hy moes sy trots in sy sak druk en self in die tjoekie gaan sit.
Jy hoef nie tronk toe te gaan vir al die verkeerde dinge wat jy doen nie. Dankie tog, want baie van ons sal baie lank moet gaan sit vir al die verkeerde dinge wat ons gedoen het. Gelukkig het Jesus ons straf aan die kruis gedra en alles is betaal. Jy moet net glo dat Jesus dit reeds gedoen het. Ja, geloof is die sleutel.
Daar is so baie mense daar buite wat nie glo nie. Mense wie se sondes te veel is vir hulle. Miskien moet ons die vryheid van Jesus gaan uitleef sodat ander kan sien wat dit beteken om nie die las van tronk toe gaan op ons skouers te dra nie.
Jesus is ons broer wat ons uit die tronk hou!
Teks
Om oor na te dink
Glo jy dat Jesus se kruisdood jou uit die tronk hou?
Glo jy dat Jesus genoeg gedoen het om vir jou sondes te betaal?
Hoe leef jy dit sodat dit sigbaar vir ander word?
Gebed
Here, hoe goed is U nie om in my plek tronk toe te gaan nie! Vir al die dinge wat ek verkeerd gedoen het, vat U die pak. Dit kos U lewe! Hoe sê ’n mens dankie? Amen