God se Woord in vandag se woorde

Inge-plug en op ge-charge vir Christus


Op ons eie kan ons nie veel vir Jesus doen nie. Ons is te swak daarvoor. Ja, uit ons eie kan ons dalk wegspring en iets begin doen, maar as die Gees ons nie help nie, gaan ons petrol gou opraak en gaan ons ’n groot flop van alles maak.

Selfs Paulus sê dat as die krag van Jesus nie in hom is nie, hy nie tot veel in staat is nie: 4Party van julle soek mos die een of ander bewys dat Christus ook deur my praat. Wel, daar wag ’n groot verrassing op julle. Hy gaan hierdie keer wanneer ek by julle is, met groot krag onder julle werk, nie met swakheid nie. Natuurlik was Christus vroeër weerloos en swak toe Hy aan die kruis gehang en daar gesterf het. Maar daardie tyd is vir altyd verby. Christus lewe nou uit die groot krag van God. Natuurlik is ek ook maar swak, al is ek ’n volgeling van Christus. Maar moenie dat dit julle mislei nie. Wanneer ek daar na julle toe kom, sal julle sien dat God se groot krag deur my werk wanneer Christus my daar tussen julle gebruik.

’n Mens kan jouself nie indink in die hoop krag wat daar in Jesus is nie. Jesus het mense gesond gemaak. Jesus het vir lammes bene gegee, blindes oë en dowes nuwe ore. Jesus het ’n paar stukkies brood en vissies geneem en dit meer gemaak dat duisende hulself knuppeldik daaraan geëet het.

Daar was ’n wonderlike, magtige krag in Jesus. Die krag was so groot dat dit Hom uit die doderyk getrek het. God se krag is kragtiger as die magte van die doderyk. Ek kan nie die prentjie lekker verstaan nie, maar ek weet net dat dit ver sterker is as enige masjien of krag wat die mens al gemaak het.

Dit is presies dieselfde krag wat in Paulus is. Hy berei eintlik die ouens daar in Korinte voor. Hulle moet weet dat as hy vir die derde keer daar by hulle opdaag daar groot dinge gaan gebeur. Mense se monde gaan oophang, want die kragtige dade gaan opspraak maak. Almal gaan daaroor praat. Dit gaan die koerante vol lê.

Dit klink eintlik na fyn brag. Tog is Paulus dood eerlik, want hy weet uit sy eie uit kan hy niks doen nie. Niks sal werk nie. Die mense sal hom uitlag. Maar hy weet wat gebeur as Jesus se krag deur hom werk. Dan is dit ’n perd van ’n ander kleur. Wanneer Jesus se krag inskop, gebeur groot dinge. Dan word mense gesond. Dan word mense tot stilstand geruk en sien hulle die vuil in hulle raak. Dan word die rofste mens tot stilstand geruk en word hulle so mak soos lammetjies. Self duiwels sidder, raak bang en kry hulle ry. Alles net omdat Jesus se krag deur Paulus werk.

En dan kyk ek na my eie lewe en ek vra hoe lyk die krag wat uit my dade straal. Ek moet hard soek om ’n paar dade raak te sien. Ek sukkel.

Ek moet erken dat my dade nie altyd die krag van Jesus reflekteer nie. Ja, ek wil goeddoen en ek wil ander help, maar ek besef dat dit nie altyd suksesvol is nie, omdat ek eerstens nie glo dat Jesus se krag deur my kan werk nie. Ek maak ook nie altyd plek vir Jesus se krag nie en probeer soms iets in my eie krag te doen. Dis sulke tyd dat die goedjies wat ek probeer, platval en nie rêrig ’n impak in die wêreld het nie.

Ons moet iets hieraan doen. Eerstens moet ons weet en met ons hele hart glo dat God met sy grote krag deur ons wil werk. Maak nie saak wat jy aangevang het nie. Maak nie saak waar jy vandaan kom nie, God wil jou gebruik. Ons moet egter ook besef dat ons uit ons eie nie iets kan doen nie. Daarvoor is ons krag net te min en te kort. Daarom moet ons ruimte maak vir God se krag om deur ons te werk. Ons moet ons batterye by God laai sodat wanneer ons die donker wêreld instap, ons genoeg krag sal hê om lig te maak. Nie net ’n flou flitsliggie nie, maar sommer ’n spotlight.

Mag jy tog besef dat God jou kragtig wil gebruik daar waar jy gaan. Mag jy stil by God gaan sit en toelaat dat Hy jou batterye laai en mag jy dan ’n lig vir die wêreld wees. Mag mense verander word, omdat God deur jou werk.

Teks

2 Korintiërs 13:1-10

Om oor na te dink

Glo jy dat jy eintlik nie veel op jou eie kan doen nie?

Glo jy dat God met sy krag deur jou kan werk?

Kan ander God se krag deur jou sien werk?

Gebed

Vader, ek glo dat U met U krag deur my kan werk. Tog, as ek so om my kyk, sien ek nie altyd die krag in my dade nie. Help my Here, om meer plek te maak vir U krag om deur my te werk. Laat ek swak raak sodat U krag deur my kan werk. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek