God se Woord in vandag se woorde

Inskiklike heer


Jakobus wil die lesers wys hoe om met wysheid op te tree. Wysheid is so omvattend, dat hy agt woorde of begrippe benodig om dit te beskryf. Ons het reeds stilgestaan by die eerste twee: wysheid is om sonder bybedoelings op te tree en vrede lief te hê. Die derde een is om inskiklik te wees – ’n woord wat nie so maklik is om te verstaan nie.

Dalk moet ek eers ’n storie vertel van ’n tannie wat nie inskiklik was nie.

Wanneer ons in die Kruger Wildtuin is, staan ons elke dag vroeg op, veral wanneer ons na ’n volgende kamp trek. Dit is sodat ons ’n goeie staanplek kan kry.

So kom ons lekker vroeg by Onder Sabie aan en kry ’n lekker staanplek wat deur plantegroei afgesonder is waar ons lekker kan werk, sonder enige steurnisse van die bure. Reg langs die kampplek is daar ’n staanplek vir die Ford, lekker in die koelte.

Ek gooi solank ons grondseil daar terwyl ons Faantjie, die kampwaentjie se watertenke volmaak, want netnou glip iemand anders daar in. Terwyl ek vir Faantjie instoot, skree die buurvrou van oorkant die pad, dat die parkeerplek, dis nou die een vir die voertuig reg langs ons staanplek, vir hulle bakkie is en ons nie ons bakkie daar moet intrek nie.

Ek en Renata kyk mekaar met groot oë aan. Ons wind uit ons seile geneem, maar ons sê gelukkig niks nie. Enige iemand kan sien die parkeerplek behoort eintlik aan ons. Ons is egter groot genoeg en laat die antie haar gang gaan.

Fordjie slaap vir twee aande in die pad.

Die antie was vir seker nie inskiklik nie. Sy was nie saggeaard of buigsaam nie. Nog minder verdraagsaam, tembaar of akkommoderend. Nee, eintlik so-effe aggressief en vir seker nie tegemoetkomend nie. Al hierdie terme is sinonieme van inskiklik.

Wanneer ‘n mens wys optree, klim die eie ek uit die prentjie en fokus jy op die ander persoon. Die ander persoon se behoefte is belangriker as joune en jy soek maniere om dit vir die ander persoon lekker te maak.

Dit kry jy slegs reg as jy gentle is, die Engelse vertaling van inskiklik. Dis juis van hierdie woord wat gentleman afgelei is. ’n Gentleman of heer is hoflik, beleefd en respekvol. Hy sê asseblief en dankie en wag sy beurt in die ry af. Hy hanteer mense met respek.

Wanneer ons wys is, wanneer wysheid ons optrede mobiliseer, tree ’n mens altyd soos ’n heer op. Kom ons probeer ons bes om veral wanneer ons warm onder die kraag is of wanneer ons benadeel word, nie handskoene aan te trek nie, maar eerder ’n heer te wees, want dit is wys.

17 Die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik …

Teks
Jakobus 3:13-18

Om oor na te dink
Waar moet jy meer inskiklik optree?
Wat moet jy anders doen?
Wat moet jy nie doen nie?

Gebed
Vader, ek wil graag altyd met wysheid optree. Ek wil ’n Christen-heer of -dame wees, maar ek kry dit nie reg nie. Help my met U Gees om reg op te tree, sodat ander die enigste ware Heer sal raaksien. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek