God se Woord in vandag se woorde

Ish en vertrou


Kom ons staan nog ’n keer stil by die vers: 12Moenie lui word om God te dien nie. Doen wat die Christene voor julle gedoen het. Hulle het gekry wat God beloof het, omdat hulle geduldig was en op God bly vertrou het.

Ek weet ons moet met ywer, dieselfde ywer waarmee ons begin het, elke dag vir God dien. Ek weet ons moet soos die mense voor ons, soos ons ouers en dié se ouers, Hom onverskrokke dien.

Ek weet ook dat ons geduldig moet wag, al is dit nie altyd ons geaardheid nie. Tog is daar nog ietsie wat ons moet doen. Ons moet bly vertrou op God. En vertroue is die moeilikste van alles wanneer vertroue die nodigste is.

Ek vertrou dat God die kanker sal wegneem, al is daar soveel stories. Ek vertrou dat God my besigheid sal red, al kry niemand werk nie. Ek vertrou dat God hierdie verhouding van my sal herstel. Ek vertrou dat God ’n wonderwerk sal laat gebeur om my nou te red, om nou te voorsien.

Jy kan jou eie vertroue-storie hier inskryf.

Kom ons wees nou eerlik met mekaar. Om so blindelings te vertrou, is nie maklik nie. Ons kan baie leer by Frik:

Op skool en na skool was ek ’n rebel – daardie tyd het hulle dit ’n ducktail genoem. Ek is op 21 getroud en toe het my lewe ‘n bietjie verander. Toe ek 23 was, het my oë so versleg, dat ek nie meer verkeerstekens kon onderskei nie. Nie eers stop- of spoedtekens nie. My vrou moes my sê wat is die spoed, dis ‘n stop- en die ‘n toegeeteken.

Toe ek 26 jaar oud was, het ek my lewe vir die Here gegee. Ek het by ’n groep aangesluit en die Gees van God my lewe omgekeer.

My oë het al hoe erger geword en dit was ’n groot probleem, aangesien ek ’n baie gevaarlike werk gedoen het.

Ek het vir die pastoor gevra wat ek moet doen. Hy het gesê dat ek die Here moet vertrou vir ’n wonderwerk. Dan sal ek weet hoe om Hom vir altyd te vertrou. Ek het gesê: “Ish!”

Ek het vir die Here gesê ek glo Hy gaan my oë gesond maak. Ek het Hom baie gereeld daaraan herinner en werklik uitgesien na DIE dag.

Eendag, sowat twee jaar later, loop ek by die werk. Terwyl ek loop, sien ek net een groot blur voor my. My woorde was: “Ag, Here, wanneer gaan U my oë gesond maak?”

Terwyl ek dit sê, knip ek my oë, en … Daar sien ek PERFEK!

Die vreugde was baie groot. Dis 40 jaar later en ek het so pas my bestuur-oogtoets met lof geslaag, op die ouderdom van 65. Sonder ’n bril! Ek kan enige fyn letters lees en sal ’n boom se takke vir jou op 500 meter kan tel.

Die pastoor het gesê dat hy die Here vir ’n wonderwerk moet vertrou, dan weet hy hoe om Hom vir altyd te vertrou. Hy het gesê: “Ish!”

Dalk moet ek en jy ook so maak: Ish en vertrou!

Teks
Hebreërs 6:9-11

Om oor na te dink
Hoe dik loop jou vertroue?
Glo jy nog in wonderwerke?
Hoe lank sal jy nog vertrou?

Gebed
Ons Here, vertroue is nie my beste eienskap nie. Ja, ek bid en ek glo en vertrou, maar as ek my weer kom kry, trek die realiteit ’n streep deur my vertroue. Jammer daarvoor, Here. Ek weet ek kan nie anders as om net op U te vertrou nie. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek