God se Woord in vandag se woorde

Jaag die eie ek terug in die ry – Romeine 12:9-21


elderly-handsKliek hier om die teks te lees: Romeine 12:9-21

Ek en ’n vriend staan om die vuur en gesels oor hoe na binne gekeer die mens is. Die meeste dinge wat die mens doen, beplan en leef, gaan net oor homself. Ek onthou die Latynse frase vir sonde: incurvatus in se. Dit beteken letterlik die “na binne gerigtheid” van die mens. Dit is wat sonde is. Sonde gaan net oor die self. Die mens het mos die begeerte na meer en na nog en in die proses om dit alles in die hande te kry, glip die sondes by die agterdeur in.

Paulus help ons om ’n brug te bou om oor die na binne gerigtheid van die mens te kom. Eintlik kan ’n mens die vraag vra: Hoe kan ek tog minder sondes doen? 15Lag en vier fees saam met elkeen wat bly is. Huil saam met elkeen wat hartseer is.

Beleef ander se emosionele krisisse. Leef saam. Gee om. Voel die ander se seer. Laat jou trane saam met hulle s’n oor die wange rol. Maar deel ook in ander se vreugde. Wees regtig bly vir hulle deurbraak of hul geskenk. Lag saam met hulle uit jou maag, omdat jy regtig bly is vir hulle stuk seën en sukses.

Dan is die kans vir sonde minder.

16Leef in harmonie met mekaar. Moenie baklei nie. Moenie beter as ander mense probeer wees nie. Maak vriende met mense wat nie te veel van hulleself dink nie. Onthou: julle beskik nie oor al die kennis en wysheid in die wêreld nie. Wees nederig.

My vrou stuur vir my ’n SMS: Jammer dat ek aanhou praat het toe jy my in die rede geval het. 🙂 Ja, met ’n smiley daarna! Jy kan seker aflei dat hier ’n ligte oorloggie gewoed het. Ek kan nie meer onthou waaroor dit gegaan het nie, maar wat ek wel kan onthou is dat ek nie eintlik vir haar ruimte gegee het om te praat nie.

Ek moet my kop in skaamte laat sak.

Ek sien presies wat Paulus hier probeer doen. Hy probeer ons wys dat as ons meer soos Jesus wil word, as ons minder sonde wil doen, as ons meer binne die wil van God wil leef, moet ons ons visier wegskuif van die self en dit meer op ander rig. Ons moet sensitief wees vir ander se behoeftes. Ons moet ons afvra wat die ander een nou nodig het en nie probeer om ons eie wil op ander af te druk nie.

So baie rusies is so onnodig en kon maar gebly het. Daar is nie ’n wenner nie, maar net verloorders. Hoe stupidkan ’n mens dan nou wees? Ons moet ’n kognitiewe besluit neem om ons tong te byt as ons agterkom dat die eie ek met sy eie behoeftes voor in die ry staan. Dan moet ons eers die leisels intrek, alles tot stilstand ruk en die eie ek terugjaag na sy plek toe. Dan gaan ons ’n vol lewe begin lei. Dan gaan ons agterkom waar die kennis en die wysheid lê. Dan gaan ons genuinenederig en soos ware kinders van God leef.

Dan is die kans vir sonde minder.

Dis nie maklik nie, maar God sal ons hiermee help.

Om oor na te dink

Waar is ruimte vir vrede?

Waar moet jy die ander een eerste plek gee?

Waar moet die eie ek eers terugstaan in die ry?

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek