God se Woord in vandag se woorde

Jaag, jaag en nogmaals jaag!


Efesiërs 6:1-9

Ons het elke jaar mooi voornemens om minder by die werk en meer by die familie te wees, maar hierdie voornemens waai vinnig by die deur uit, want ons raak te besig met ons werk en ander dinge.

En weet jy wat? Die duiwel jaag ons aan. Hy por ons aan om nog vinniger, nog beter, nog harder, nog meer geld na te jaag, want hy weet dat ons dan te besig raak om werklik kwaliteit tyd by ons huise deur te bring en dat die krake later kraters word.

God het ons aangestel om ons kinders aan die hand te neem en hulle op die pad van die lewe te help om die regte keuses te maak. Ons moet dit egter verdien en al manier hoe ons dit werklik kan verdien is om tyd – regte kwaliteit tyd – saam met ons gesin deur te bring.

Hoe preek ek nou vir myself!

Ons almal is so skuldig. Die meeste van die oggende is ons uit die huis voor die kinders opstaan. En ja, die soentjie op die wang van die slapende kinders koop nie ons skuld af nie.

Saans moet hulle menige male sonder ons eet, want sien, ons moet nog net gou die laaste dingetjies by die besigheid agtermekaar kry. Ons is besig om onsself uit ons posisie as vader en moeder, as opvoeder, as reg-helper, as vriend, as tugtiger van ons kinders te werk. As ons nie kwaliteit tyd saam met ons huisgesin deurbring nie, verloor ons ons gesag en is ons woord in die huis net ’n sagte gesuis waarna niemand luister nie.

Nog steeds aan die preek vir myself!

Jy het ’n rol te speel: 4Vir die pa’s (en ma’s) wil ek dit sê: moenie julle kinders so behandel dat hulle nie meer na julle wil luister en rebels raak nie. Maak hulle liewer groot soos die Here van julle verwag. Leer hulle wat om te doen en help hulle op die regte pad, al moet julle soms streng optree.

’n Vriend vertel toe sy seun baie klein was, het hy besluit dit sal uiters snaaks wees om vir een van hulle vriende se seuns iets leliks te sê. Dit het die seuntjie ten gronde gehad en hy wou nie weer daar gaan speel nie. Met ’n lang draai vind die ouers dit toe heel laaste uit en hulle moes hulle seun ernstig vasvat.

Party ouens glo nog aan ’n paar houe met ’n houtlepel, want dit praat soms duideliker as woorde. Maar daarmee saam het ons ’n verantwoordelikheid om ons kinders presies te verduidelik wat die impak van hulle woorde is. Die seun moes verstaan dat sy woorde nie snaaks was nie maar in werklikheid iemand anders baie seergemaak het. Die uiteinde was ’n soetsappige kaartjie van jammerte en trane en ’n sjokolade wat gekoop moes word. Dit was nie ’n minuut nie, toe stoei die 2 seuns weer dat die grashalms spat.

Kon my vriend sy kind op die pad van die lewe help as hy nie ’n verhouding met hom gehad het nie? Ek dink nie so nie.

Staan bietjie doodstil en hoor wat jou gesin van jou vra. Kyk terug na die afgelope tyd en kyk of jy genoeg tyd stilgestaan het by hulle.

Om oor na te dink

Hoeveel tyd bestee jy saam met jou gesin?

Is dit genoeg?

Wat kan julle meer saamdoen?

Gebed

Hemelse Vader, dankie dat U vir ons ’n voorbeeld is van liefde en omgee en altyd daar wees vir u kinders. Help ons as ouers om U voorbeeld na te volg en altyd beskikbaar te wees wanneer ons kinders ons nodig het. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek