Jammer, ek ken jou nie
Partykeer is daar verse waaroor ek nie wil skryf nie.
Die eerste gedeelte van vers 12 gee ons moed om deur die swaar te trek: 12As ons nie moed verloor nie, maar vasbyt, sal ons ook eendag saam met Hom heers.
Hieraan hou ’n mens met alles in jou vas. Wanneer die swaar te swaar raak, lig ’n mens jou kop en kyk oor die swaar en loer na die eindpunt. Dit gee ons krag om voort te beur.
Dankie tog!
Maar dan is daar die tweede gedeelte van die vers waaroor ’n mens nie wil praat nie. Dis so finaal. Dis om by die randjie van ’n afgrond te staan en te weet as jy nou hier afval, is dit verby.
Vir altyd verby: 12… As ons egter sê dat ons Hom nie wil ken nie, sal Hy dieselfde van ons sê.
Die alleenste van alleen is sekerlik wanneer Jesus vir ’n mens sê: “Ek ken jou nie. Jammer …”
Wat sal deur jou kop gaan as Jesus dit vir jou sê?
Hoe sal jy voel as Jesus omdraai en net wegstap van jou?
Sal jy dan jou fout besef?
Sal jy dan na Jesus toe hardloop?
Sal jy dan voor Jesus gaan neerval?
En Jesus?
Sal Jesus se arms nog ’n keer vir jou oopgaan?
Soms, ja soms, hang die vraagtekens in die lug en bly ’n antwoord vir ’n mens geskuld.
Teks
2 Tim 2:8-13
Om oor na te dink
Sal ’n mens dan sy fout besef?
Sal ’n mens dan na Jesus toe hardloop?
Sal ’n mens dan voor Jesus gaan neerval?
Gebed
Here, Here, Here! Wees U sondaar tog genadig! Amen.