God se Woord in vandag se woorde

Jammer, jy maak dit nie …


Ek en my korporaal in die weermag het al te gereeld koppe gestamp. Ek vermoed een van die groot redes was dat ek nie baie gehou het van oefen nie. Ek is eintlik nie daarvoor gebou nie en dit was maar altyd ’n gesukkel vir my.

Ek kon dit nooit verstaan hoekom die ou wat eerste kom, nie weer hoef te hardloop nie. Hy is meer gebou vir daai as ek wat strompel en na my asem snak. En dan moes ek hoor ek sal nooit erens in die lewe kom nie.

Dit smokkel met jou kop en erens langs die pad wil jy die ou begin glo. Dalk is jy nie so goed soos jy dink jy is nie. Dalk is jy op die aarde geplaas om altyd laaste te wees. Dalk moet jy maar moed opgee.

Baie keer in die lewe word ’n mens uitgespoeg en hoor jy jy is nie goed genoeg nie. Ek dink nou aan my vriend wat vyf jaar lank ’n werk gesoek het. Daagliks aansoek gedoen het en nie eens ’n brief gekry het om te sê: “Jammer, jy maak dit nie.” “As jy niks van ons hoor binne ’n paar dae nie, dan …”

Selfs verhoudings kan jou tot in die grond in afbreek. ’n Vriendin se man wat net eendag opdaag en vir haar sê dat hy iemand anders lilefhet. Nou is dit sy wat soms wonder of dit haar skuld is en dat sy nie meer goed genoeg is nie.

Dis die werklikheid. Mense mors met ander mense. Mense besef nie wat hulle met hul woorde en dade vertel nie. Sommerso word iemand ’n weggooilap en hul selfwaarde storm by die deur uit. “Jammer, jy maak dit nie …”

Of dalk by die werk. Ons moet van die werkersmag verminder en ongelukkig kan ons jou nie aanhou nie. Jy is nie deel van die helfte wat oorbly nie. “Jammer, jy maak dit nie …” Afgekeur en weggegooi.

Ek vermoed Jesus ken die ene ook. Hy het gekom as geskenk vir die wêreld. Hy het die lig na die donkere wêreld gebring, Nee, meer nog. Hy het die ware verlossing vir die hele mensdom gebring.

Maar die mense het dit nie raakgesien nie. Hulle, wat selfs die kerk van die dag ingesluit het, het Hom vervolg. Hulle het Hom verhoor en skuldig bevind. Hulle het op Hom gespoeg, Hom geslaan met swepe. Hom aan ’n kruis vasgeslaan en ’n spies in Sy sy gesteek. “Jammer, jy maak dit nie …” Jy is nie die Verlosser nie.

Maar God steur Hom nie hieraan nie: 7…Die steen wat die bouers nie wou hê nie, juis daardie steen het die belangrikste steen in die hele gebou geword.”

Jesus raak die hoeksteen van God se nuwe huis. Hy word die Verlosser van die wêreld, al het die mense Hom weggegooi. Dis wat God doen. Dis die omgekeerde teologie waarvan die mense praat.

Groot was my verbasing toe ek aan die einde van my eerste jaar in die weermag gekies word om die hoof van die kompanie se gunner te wees – die grootste pos wat daar was. Ek dink groot was die verbasing van die korporaal ook.

Ek het geleer dat mense dalk dink jy maak dit nie, dan help God ’n mens op, Hy draai alles om. Dan weet ek: met God, maak ek dit wel!

Teks
1 Petrus 2:1-8

Om oor na te dink
Waar het jy die boodskap gekry dat jy dit nie maak nie?
Verstaan jy dat God dit kan omdraai?
Waar het jy God se omdraai nou nodig?

Gebed
Vader, soms glo ek die mense wat sê ek maak dit nie. Jesus, U weet presies hoe dit voel. Help my om te glo dat U dit kan omdraai. Ek vra dit in U Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek