Jesus is in beheer. Dankie tog!
Partykeer is dit goed om net ’n oomblik stil te staan by wie Jesus is. As ons na Jesus kyk, kyk ons deur die bril van die kruisiging, opstanding en vergewing van sondes. Dit is verstaanbaar, want dit is so ’n lewegewende gebeurtenis in ons as sondaars se lewe dat ons Jesus amper net tot daardie tydperk van sy lewe beperk. Maar daar is baie meer: 17Voor enigiets anders gemaak is, was Hy mos al daar.
Jesus was van die begin af reeds daar. Nog voor die aarde geskep is, het Jesus al bestaan. Dit maak sy koms na die aarde soveel méér. Ek wonder of Jesus en God gesprekke oor die aarde-toe-kom gehad het? Ek wonder of Jesus opgewonde was en of Hy dalk effe op sy senuwees was?
Ek het nie antwoorde op die vrae nie, maar ek word net weereens oorval met dankbaarheid dat my God so baie vir ons omgee dat Hy bereid was om neer te daal tot op die mens se vlak en te sterf vir ’n hoop sondaars, sodat hulle nie hoef te sterf nie. Sjoe!
Jesus het egter nie net die werk as Verlosser nie, maar Hy het ook ’n ander portefeulje: 18Boonop is Hy ook die Een wat sorg dat die heelal nie in duie stort nie.
Al bring ons al die slimste mense wat al gelewe het saam met dié wat nog gebore moet word, sal hulle nie slim genoeg wees om die hele wêreld en al die sonnestelsels in harmonie te hou nie. As dit van die mens afgehang het om die balans in die sonnestelsels, die wêreldkragte, weersisteme en so meer in toom te hou, sou ons vir seker nie meer bestaan het nie. Een foutjie van oeps! en die hele wêreld is daarmee heen.
Eerwaarde Joe Wright se openingsgebed in 1996 by die wetgewende vergadering van die Amerikaanse staat van Kansas gee ’n kykie in wat die mens eintlik regkry:
“Hemelse Vader, ons kom vandag voor U om vergifnis te vra en U om rigting en leiding te smeek. Ons weet U woord sê: ‘Wee dié wat kwaad goedpraat,’ maar dit is juis wat ons doen. Ons het ons geestelike balans verloor en ons waardes agterstevoor gedraai.
“Ons beken dat ons die absolute waarheid van U Woord bespot en daarna verwys as morele pluralisme.
“Ons aanbid ander gode en noem dit multikulturisme.
“Ons vergoelik perversie en sê dis ’n alternatiewe lewensstyl.
“Ons buit die armes uit en sê dis ’n lotery.
“Ons verontagsaam die behoeftiges en sê dis selfbeskerming.
“Ons beloon luiheid en noem dit welsynswerk.
“Ons moor ons ongeborenes en noem dit vrye keuse.
“Ons vermoor vrugafdrywers en sê dis geregverdig.
“Ons dissiplineer nie ons kinders nie en sê dit bou die selfbeeld op.
“Ons misbruik mag en noem dit politieke slimheid.
“Ons begeer ons buurman se besittings en sê dis bloot ambisie.
“Ons bevuil die lug met vloekwoorde en pornografie en noem dit vryheid van spraak.”
Dankie tog dat Jesus aan die hoof is, want ons mense is maar vrot bestuurders van die bietjie waarvoor ons verantwoordelik is.
Skrifgedeelte
Om oor na te dink
Glo jy in Jesus?
Glo jy dat Hy alles in balans hou?
Kruisverwysing
Gebed
Here, ek wil saam met die eerwaarde bid en verskoning vra dat ons so mors. Ons dink ons is die kat se stert, maar eintlik maak ons erg droog. Dankie dat U nie moed opgee met ons nie. Dankie dat U die balans bly hou. Amen.